Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ontvoerde meisie veilig

’n Gesin van Mount Pleasant lewe in vrees nadat hul 12-jarige dogter die naweek ontvoer en teruggevind is.

“Ek is bang om alleen met die kinders by die huis te wees, want sy (die vermeende ontvoerder se) familie woon naby ons. Wat as een van hulle weer probeer om haar te ontvoer?” vra die kind se emosionele stiefma.

Die gesin se nagmerrie-ondervinding het Sondag begin. Die meisie se ouma sê die jong man, wat hulle vertrou het, het aangebied om die kind en haar vier niggies winkel toe te vat.

“Die kinders sê hy het onbeskof begin raak,” sê die ouma. “Die oudste het hom geklap en uit die bakkie geklim. Naby Zwelihle het hy gestop en gesê almal behalwe sy (die slagoffer) moet uitklim. Hy het toe met haar weggejaag.”

Die ouma en die meisie se pa het waansinnig van kommer talle kere probeer om die jong Ethiopiër te bel. Hulle het ook die polisie ontbied en ’n foto van die verdagte en sy foonnommer aan die owerhede gegee en hulle ingelig oor waar hulle vermoed die verdagte met hul kind is.

Die meisie het daarin geslaag om haar beweerde ontvoerder se selfoon in die hande te kry en het haar familie deur middel van ’n video-oproep gekontak.

Die kind se stiefma vertel: “Hy het die foon by haar gegryp en gevloek. Toe ons met hom praat, het hy gesê sy is nou syne. Ek het histeries geraak.”

Die kind se ouma het egter koelkop gebly en bakens in die agtergrond herken, wat haar gehelp het om te bepaal dat die kind in Belville is. Sy het nog familielede gebel en ingelig van haar vermoede oor waar haar kleinkind is. Die ouma se vasbeslotenheid het vrugte afgewerp en die polisie het haar kleinkind gered en na die naaste polisiekantoor geneem.

“Toe ek hoor hulle het haar gekry, het ek net die Here gedank dat sy veilig is. Ons was bang dat hy haar oor die grens sou vat en dat sy die slagoffer van human trafficking sou word,” vertel die ouma.

’n Familielid het die kind dieselfde aand nog na Hermanus gebring. Die familie het haar by die hospitaal ontmoet waar dokters haar ondersoek en polisiebeamptes die nodige bewysstukke versamel het.

Die slagoffer se familie glo dat die man wat haar na bewering ontvoer het, beplan het om haar uit die land te neem. Die familie se grootste wens nou, sê hulle, is dat die beweerde ontvoerder se familie uit die gebied moet trek.

“Sondag, terwyl ons mense gebel het om haar terug te kry, het mense die (verdagte se) oom se besigheid leeggedra,” sê die ouma. “Al die kinders wat saam met haar (die slagoffer) was, is getraumatiseer. Die kinders is bang; hulle sal almal berading moet kry. Ons hoop iemand kan ons hiermee help,” sê sy.

Kapt. Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig dat die polisie ’n saak van inbraak by ’n besigheid in verband met die voorval by die huiswinkel ondersoek.

“Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie,” het sy bygevoeg. September het ook bevestig dat ’n 20-jarige man van Ethiopië in verband met die kind se ontvoering aangekeer is. Hy was Maandag in die hof.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.