Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oudjoernalis en bekende inwoner sterf

Vriende en geliefdes van die bekende dramaturg, skrywer en oudjoernalis Cas van Rensburg sal Saterdag byeenkom om van dié groot gees afskeid te neem.

Van Rensburg, een van die stigterslede van die Hermanus Times Kalfiefees, is Donderdag 3 Mei op die ouderdom van 76 in Onrus Manor se sorgeenheid vir verswakte pasiënte oorlede.

Petrovna Metelerkamp, wat vir 36 jaar met Van Rensburg bevriend was, beskryf die stigterslid en voormalige adjunkredakteur van die tydskrif, Insig, as ’n “ewige student” en liefhebber van die kunste.

“Hy was opgelei in Jungiaanse sielkunde en het gereeld gespreksessies oor droomuitleg aangebied. Hy het ook toe hy jonger was teologie, letterkunde en medies gestudeer.”

Van Rensburg het verskeie dramas en ook twee boeke – Jou drome – die onbewuste het ál die antwoorde en Die prinses in elke vrou – geskryf. Hy was ook ’n skilder.

Die bekende dramaturg het laat in sy lewe na Hermanus verhuis om met Metelerkamp en ander vriende in Hemel en See in Vermont te gaan woon. Hy het in dié tyd by die Hawston-dramavereniging betrokke geraak.

Sherman Pharo, ’n voormalige lid van dié vereniging wat al in bekende TV-reekse soos Swartwater, Suidooster en Vinkel en Koljander te sien was, skryf die dramagroep se sukses aan Van Rensburg se mentorskap toe.

“Baie van ons lede se liefde vir drama is as gevolg van sý passie en invloed. Sy deur was altyd oop en hy het sy kontakte gebruik om ons te help om produksies by verskeie feeste op die planke te bring. Hy het my ook baie gehelp met my skryfwerk. Toe ek vir my eerste oudisie vir ’n TV-rol gegaan het, het hy vir my baie waardevolle tips gegee. Sy dood laat beslis ’n groot leemte in die dramawêreld,” sê Pharo.

Swak gesondheid het Van Rensburg later laat besluit om na Onrus Manor te verhuis.

“Cas het die laaste twee of drie weke in die oord se verswakte sorgeenheid deurgebring. Ek, Deon Pheiffer en Rahila (Rae) Schoombee het beurte gemaak om by hom te sit. Hy was baie godsdienstig en sy laaste versoek was dat ek vir hom uit die Bybel moes lees,” vertel Metelerkamp.


.Van Rensburg se vriende kom Saterdag om 14:00 by Onrus Manor byeen vir ’n vaarweldiens.

“Van sy skilderye sal by die diens uitgestal word. Hy word veras en sy as sal geplaas word in die muur in Onrus se begraafplaas waar Uys Krige en Jan Rabie ook ter ruste gelê is,” sê Metelerkamp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.