Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oudlosskakel systap vir die laaste keer

Lance Nel, wat in die jare vyftig een van die beste losskakels in Suid-Afrikaanse rugby was, is Maandagoggend in die ouderdom van 86 jaar in Hermanus oorlede.

Nel was in die laaste paar maande van ’n baie aktiewe lewe gereeld in die hospitaal. Hy het verskeie kere per ongeluk geval en in die proses sy ribbes en albei elmboë gebreek. Dit het gelei tot operasies en komplikasies waarvan hy nie kon herstel nie.

Nel was ’n seun van die Oos-Kaap wat in Port Elizabeth gematrikuleer het voordat hy hom vir die BCom-graad aan die Universiteit Stellenbosch ingeskryf het. Reeds op 19-jarige ouderdom in 1952 het Danie Craven, in daardie stadium leier van die Maties sowel as SA rugby, hom uit die junior spanne gaan haal om vir die eerste span te speel. Hiér het hy hom in die geselskap van latere Springbokke, onder andere Dawie Ackermann, Butch Lochner, James Starke en Daantjie Rossouw, bevind.

Nel was bekend vir sy uitstekende losskakel-vaardighede.

“Lance Nel was die ene ratsheid. Hy kon systap, hy het die hande, die voete . . . hy het alles gehad,” het Craven in onderhoude met Chris Greyvenstein en Keith Clayton in The Craven Tapes gesê.

Nel het sy buiging vir die WP in 1954 op Nuweland gemaak. Hy het later jare vertel hoe die spelers in die dae van amateurrugby hul eie potjie moes krap. So moes hy en Butch Lochner ná ’n wedstryd vir die WP op Nuweland Stellenbosch toe ryloop omdat geen vervoer vir hulle gereël is nie.

Die meeste studente het destyds nie motors besit nie.

Nel is met die besoek van die Britse Leeus in Suid-Afrika in 1955 gekies om die Junior Springbokke teen die toerspan te verteenwoordig. Dit was ’n taai wedstryd waarin die Leeus die juniors in Bloemfontein net-net geklop het.

Hoewel verwag is dat Nel in die een of ander stadium die Springbokspan sou haal, het dit nie gebeur nie.

“Ek dink die enigste rede waarom hy nie Springbok geword het nie, is omdat beserings ’n rol gespeel het,” het Craven gesê.

Nadat Nel die WP verteenwoordig het, het hy ook vir Transvaal en die Oostelike Provinsie gespeel.

Nel het by die SAUK en die Ford-motormaatskappy gewerk voordat hy as ’n skakelbeampte van Stellenbosse Boerewynmaatskappy afgetree het. Daarna het hy en sy vrou, Marie, hulle in Hermanus gevestig waar Nel tot voor sy siekte weekliks ’n paar rondes gholf gespeel het.

Behalwe Marie laat hy ook twee dogters en vier kleinkinders agter. Sy lewe word Dinsdag by die Hermanus-gholfklub gevier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.