Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rubriek: Ek Sê: Die duine van die liefde

Verlede week breek ek omtrent my kop oor wat ek kan doen vir Valentynsdag vir my geliefde man. Maar, dis nie net Valentynsdag nie, dit is ook ons huweliksherdenking, ons tweede jaar getroud!

My man was mos baie slim toe ons op ’n troudatum moet besluit, 14 Februarie. Dan slaan hy twee vlieë met een klap, Valentynsdag en ons huweliks-herdenking. Ook een present in plaas van twee.

Skielik voel ek jammer vir al die mense wat op Kersdag verjaar. Hul kry ook gewoonlik een present in plaas van twee.

Ek is baie erg oor presente. Elke jaar hou ek ’n groot partytjie op my verjaarsdag, net om baie presente te kry. (En om weer tyd saam met al my vriende en geliefdes te spandeer natuurlik).

Maar so sê ek vir my man verlede week, ek soek twee presente. Of ten minste ’n briefie in my kosblik vir werk wat hy elke oggend, (partykeer liefdevol, ander kere brommend) vir my inpak. Ek sê vir hom, sjoe, ek het lanklaas ’n ou liefdesbriefie tussen my konfyt- en kaas- toebroodjies gekry. Hy dink hy is slim, en sê vir my: “Toemaar liefie, hierdie Valentynsdag (en huweliksherdenking) sal ek vir jou, in plaas van twee presentjies, liewer twee briefies inpak!”

Ek was glad nie beïndruk nie. En hy giggel net daaroor.

Verlede jaar was hy nogal romanties met ons een jaar huweliksviering.

Hy pak ’n piekniekmandjie, vol sjokolade-skuimpies, stukkies kouevleis, en ’n vonkelwyntjie. En ’n kombersie. Ons ry rond in Onrus en Vermont, op soek na die perfekte plek om romanties te verkeer by die see.

Aan die einde van Vermont parkeer hy bo digby die paleise wat uittroon bo die see. Ons vat die mandjie en stap met ’n helse sandduin na onder. Lekker by die see, daar is ’n poeletjie waarin ek kan swem ook. So sit ons, romanties, neem selfies, eet ons trommeldik. Ek swem (hy swem nie want die water is glo te koud) maar ek is mos in premature menopause en kry altyd vreeslik warm.

Dis romanties, lekker. Niemand stap verby nie. Niemand pla ons nie. Ons eie “eiland”.

Skielik begin ons benoud raak. Die stilte. Jong, ons is aan die einde van Vermont, en ek begin dink, is dié afgeleë plekkie se bynaam nie “poachers paradise” nie, waaroor ek menigmaal al berig het. Dalk die rede hoekom niemand hierdie stukkie paradys benut nie?

Ons besef meteens, ons sal moet wegkom, ons soek nie onnodige moeilikheid nie. Netnou dink hulle ons is undercover cops . . .

My man pak alles op, en begin die (berg) van ’n duin oploop. Ek, propvol geëet, stap so stadig, toe my man daar bo is, lyk hy soos ’n lego-mannetjie, so klein en ver.

Hy besef ek het hulp nodig, fiks soos hy is, hardloop hy weer by die duin af, en trek my, aan die arm, stappie vir stappie, opdraend, na bo. Uitasem en moeg, klim ons in die kar en maak dat ons wegkom.

En toe besef ek net weer, ek het darem ’n goeie man. Al kry ek nie blomme en twee presente op Valentynsdag nie, bederf hy my met ’n piekniek, (al was dit vreesaanjaend), en hy help my tot bo op die duin.

So is ons huwelik ook, ons help mekaar om die duine van die lewe uit te klim.

Ons is só geseënd!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.