Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rylopers se lewe gered

“Die krapmerke van sy belt sit nog aan my bakkie se bonnet.”

So vertel ’n man van Hermanus wat Saterdag twee rylopers gered het nadat die mans wat hulle ’n saamrygeleentheid gegee het, hulle aangerand en beroof het.

Die man was op pad om by Meerensee tussen Hawston en Fisherhaven te gaan werk toe hy opmerk dat ’n wit kar half in die pad voor hom staan.

Die man vertel dat dieselfde wit kar vroeër op die R43 naby Paradise Park teen ’n hoë spoed verby hom gejaag het.

Tot sy skok het ’n onbekende man uit die bosse langs die pad gehardloop en hom op die bakkie se enjinkap neergewerp. “Hy het aan die bonnet geklou en daar was trane in sy oë soos hy gesmeek het dat ek hulle nie daar moet los nie. Hy het in Xhosa vir my gesê sy vrou is in die bos.

“ ’n Man met ’n vuurwapen in sy een hand en ’n handsak in die ander hand het uit die bosse gekom. Die man wat nog in die kar gesit het, het geskree hy moet die man op my bonnet doodskiet, maar dis asof hy geaarsel het,” vertel die geskokte man.

Die man op sy enjinkap het ’n rugsak op sy rug gehad, vertel hy, dus kon hy nie die aanvallers se gesigte sien nie.

“Ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek het reverse, maar die man het bly klou. Sy gesig was reg voor my teen die ruit. Ek het die vrou in die bos hoor huil. Die man met die skietding het toe in die kar gespring en hulle het op my afgepeil. Ek weet nie of hulle my wou skrikmaak nie, maar hulle het toe omgedraai en weggejaag.

“Die vrou het uit die bosse gekruip. Haar pruik was om haar nek gedraai en sy het vreeslik gehuil,” vertel die man.

“As ek nie daar aangekom het nie, sou hulle daai mense doodgemaak het.”

Hy het toe die erg getraumatiseerde paartjie na die Meerensee-kompleks se veiligheidsbeamptes geneem, wat die polisie ontbied het.

Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê speurders ondersoek ’n klag van roof met ’n vuurwapen in verband met die voorval.

“Die aanvallers het na bewering die klaer se kêrel met die vuurwapen gedreig en hul besittings gesteel. Iemand het tot hul redding gekom en die slagoffers na veiligheid geneem,” sê September. Sy het bygevoeg dat nog ’n soortgelyke voorval Sondag plaasgevind het.

“Die klaagster het by Sandbaai geryloop toe sy omstreeks 09:00 ’n rygeleentheid by twee mans in ’n wit motor gekry het. Die mans het met haar in die rigting van Hawston gery en haar na bewering gewurg en aangerand. Die slagoffer is na bewering met beide ’n vuurwapen en ’n mes gedreig en van haar besittings beroof,” berig September.

Sy het ’n ernstige beroep op die publiek gedoen om liefs nie te ryloop nie of indien hulle geen ander keuse het nie, versigtigheid aan die dag te lê wanneer hulle rygeleenthede aanvaar.

Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.

Enigeen met inligting kan die Hermanus-speurtak in kantoorure by 028 313 7000 of die Hermanus-polisie by 028 313 5300 skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.