Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
SA weer reg vir toeriste en ander reisigers

Die alkohol- en toerismebedryf het op 11 November ’n sug van verligting geslaak toe president Cyril Ramaphosa in sy nasionale toespraak aangekondig het die beperkings op die verkoopsure van alkohol en internasionale reise is summier opgehef.

Kortliks beteken dit dat alkohol vir buiteverbruik weer in die gewone handelsure, wat naweke insluit, verkoop mag word.

Emile Joubert, ’n wynbemarkings­konsultant, sê hy dink die beperking wat op die verkoopsure van wyn en alkohol gelig is, gaan plaaslike wynplase ’n groot finansiële inspuiting gee. “Hulle kry die meeste besoekers oor naweke. Suid-Afrika se plaaslike toerisme is in ’n bloeityd en dit gaan die vakansietyd baie bedrwyig raak namate meer mense plaaslik rond-rits. Wynproelokale word naweke driftig besoek en die afgelope paar maande kon ’n mens wel besoek aflê, maar geen wynverkope, wat ’n groot deel van hul inkomste is, is toegelaat nie,” sê Joubert.

Hy sê hierdie is ’n nodige hupstoot vir wynplase wat vir toerisme gerat is.

Caroline Martin van Creation Wines sê Creation is baie bly oor die nuwe handelsure. “Gaste wat ons naweke besoek, kan nou wyn proe, dit aanskaf en hul gunstelingwyn saam huis toe neem. Dit is baie sinvol,” sê sy.

PG Groenewald, die broumeester by Mountain Brewing Company net buite Villiersdorp, sê dit is uitstekende nuus, want die bedryf is tydens die Covid-19- tydperk baie swaar getref. “Die volumes wat ons moes weggooi en die hou wat ons moes vat om weer vars bier uit te kry, is een ding, maar wat ons nou sien is verkope op en weg van die perseel af wat verhoog. Dit het baie te doen met die onsekerheid oor nog ’n moontlike inperking. Ons bier vir die seisoen moet nou al gebrou wees; jy kan nie eers in Desember besluit jy wil nou bier vir die seisoen brou nie – dit werk nie so nie.”

Groenewald sê hy dink die boetiekbier-bedryf het dit baie nodig, want 90% van hul afset is by toerismeplekke soos restaurante. “Ons het nie dieselfde verspreidingsgebied soos die groot manne in daai opsig nie. Dit is dus ’n goeie stap terug na gewone bedrywighede,” sê hy.

Rico Basson, die besturende direkteur van Vinpro, verwelkom die feit dat verkope vir binne- en buiteverbruik nou toegelaat word. “Wynverkope by kelderdeure is ’n groot deel van die 533 kelders se inkomste en die hervatting van gewone handel is nou noodsaaklik. Die voortbestaan van die wynbedryf is nie net noodsaaklik vir ekonomiese herstel nie, soos die 290 000 werksgeleenthede, maar ook vir die kulturele erfenis wat dit vir Suid-Afrika inhou,” sê Basson.

Hy sê die positiewe uitkomste was uit en uit ’n resultaat van voortdurende dialoog tussen die bedryf, die regering en die gemeenskap.

“Hoewel ons bly is oor die nuutste verwikkelinge, is ons steeds pynlik daarvan bewus dat ons bedryf enorme finansiële verliese gely het – meer as R7 miljard in direkte verliese – en dat heelwat ondernemings gevolglik hul deure moes sluit en/of werksgeleenthede verlore gegaan het. Die pad na herstel gaan nog lank wees en daarom werk ons steeds aktief aan verskeie rampherstel­programme om die bedryf te help herbou,” sê Basson.

Clinton Lerm van die Whale Coast Business and Community Forum (WCBCF) asook eienaar van SA Forest Adventures, sê die feit dat Suid-Afrika se grense oopgestel is, is al klaar iets positief vir die land. “Dit lyk asof ons een van die min lande in die wêreld is wat die Covid-19-pandemie baie goed hanteer het. Ons is nou oop vir sake en ondernemings kan nou ’n ander soort klant verwag juis omdat Europa en daai plekke tans gesluit is. Plaaslike mense kan dalk nie na daardie lande reis nie, maar hulle hou steeds van reis en hulle gaan dan meer plaaslik reis. Die besluit is baie goed vir Suid-Afrika as ’n handelsmerk,” sê Lerm.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.