Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Saak na hooggeregshof

Die saak teen vier mans wat verlede week ingevolge die beweerde oor­treding van die Wet op Voorkoming van Georgani­seerde Misdaad en moord in hegtenis geneem is, sal na die Wes-Kaapse hoog­geregs­hof oorgeplaas word.

Nowell Hendricks van Mount Pleasant, Uwellin “Pork” Salies en Hylvon Neethling van Hawston en Cheslin de Beer is verlede naweek in hegtenis geneem in ’n spesiale optrede wat deur die teenbende-eenheid (AGU) van Kaapstad en die Overberg-teenbende-eenheid in Hermanus, Mount Pleasant, Kleinmond en Ashton uitgevoer is.

Dié vier mans het Dinsdag 10 November op aanklagte wat verband hou met die Wet op Voorkoming van Georgani­seerde Misdaad (Poca) en moord, in die Hermanus-landdroshof verskyn. Die viertal staar verskeie aanklagte in die gesig wat onder meer verband hou met ’n aantal moorde wat tussen 2014 en 2019 gepleeg is.

Die beskuldigdes beklee na bewering hoë range in die Terrible Josters-bende.

Salies was ten tyde van sy inhegtenisneming op borgtog in verband met die moord op Francois “Blommie” Johannisen, wat in Februarie in sy huis in Hawston doodgeskiet is. ’n Deel van sy borgtogvoor­waardes was dat hy nie in Hawston mag kom nie. Hy is in Ashton in hegtenis geneem.

Brigadier Donovan Heilbron, bevelvoerder van die polisie in die Overberg-distrik, sê dié moordklag is nie deel van die jongste saak teen Salies nie.

“Dit is tans ’n afsonderlike saak, maar kan moontlik in ’n latere stadium bygevoeg word namate die ondersoek vorder,” het Heilbron gesê.

Volgens die brigadier is die optrede verlede naweek deel van ’n multi-faset-benadering om bendebedrywighede aan te pak en hok te slaan. Die batebeslagleggingseenheid, verduidelik Heilbron, is ook deel van dié benadering aange­sien in Poca-verwante sake op beskuldiges se eiendom en bates beslag gelê word.

“Voorheen was daar ’n duidelike toename in bende-bedrywighede in die aanloop tot die feestyd. Optredes van hierdie aard word gedoen om die veiligheid van die gemeenskappe wat ons dien, te help verseker – nie net oor die feestyd nie. maar regdeur die jaar. Ons wil deur hierdie en ander soortgelyke optredes bewys dat daar wel lede van die polisie is wat vertrou kan word,” het Heilbron gesê.

Eric Ntabazalila, woordvoer­der van die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het bevestig die saak teen die vier mans is tot 8 Februarie 2021 uitgestel sodat die klagstaat saamgestel kan word.

“Die saak teen die een beskuldig­de, wat tans in die hospitaal is, sal dan ook bygevoeg word en die saak sal na die Wes-Kaapse hooggeregshof oorgeplaas word,” het hy verduidelik.

Heilbron doen ’n beroep op enigeen met inligting oor misdade in die omgewing, om hom by 082 856 1687 te bel.

“Die inligting sal vertroulik hanteer word,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.