Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Saak teen minderjariges gelos

Die saak teen twee minderjariges wat verlede week in hegtenis geneem is omdat hulle te veel vis gevang het, is van die rol geskrap.

Vier mense, onder wie twee minderjariges, is Maandag 24 September in Gansbaai-hawe in hegtenis geneem omdat hulle te veel hangberger (hotnotsvis) gevang het.

Hermanus Times het verlede week oor dié voorval berig (“Vier mense, onder wie twee kinders, ure aangehou oor vis”, 27 September 2018).

Dié voorval het na bewering plaasgevind toe die departement van landbou, bosbou en visserye tesame met die polisie ’n operasie oor die langnaweek uitgevoer het.

Dié voorval het groot reaksie op sosiale media uitgelok nadat die gebeure op Facebook geplaas is. Gebruikers van sosiale media, veral van die Gansbaai-omgewing, was hewig ontsteld omdat die mense na bewering tien uur lank in die polisieselle aangehou is. Mense was ook van mening die vier mense, veral die twee minderjariges, was sagte teikens.

’n Ouer van een van die minderjarige kinders het aangevoer sy is erg omgekrap oor die stand van sake. “My kind en die ander drie was daai Maandagoggend vroeg met hul boot uit met die doel om vis te vang.

“Hulle is met die klein bootjie uit en het net voor Romansbaai op die ‘lang rif’ gelê en visvang.” Die ouer vertel verder haar kind gaan vang gereeld oor naweke en vakansies lynvis met ervare mense op die groot kommersiële vissersbote, maar dat hulle daardie dag met die kleiner boot gegaan het omdat die skipper van die groot boot nie lekker gevoel het nie.

“Terwyl die kinders besig was om vis te vang, het daar ook, nie ver van hulle af nie, ’n rubberboot met duikers gelê. Toe ons kinders omstreeks 13:00 besig was om op te pak en wal se kant toe te beweeg het die owerhede op hulle toegesak en hulle in hegtenis geneem omdat die vis wat hulle gehad het te veel was. Die owerhede moes die rubberboot ook seker gewaar het.

“Ek erken die kinders het te veel vis gehad, maar ek dink nie hulle het dit besef nie omdat hulle al so gewoond is om meer vis met die kommersiële bote uit te haal,” het die ouer verduidelik. Die ouer het ook gesê die kinders was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Die vier vissermanne het die daaropvolgende Woensdag 26 September in die hof verskyn waar die staatsaanklaer die saak teen die twee minderjariges van die rol geskrap het. “Dit was vir my ’n groot verligting en dit word ook beskou as ’n kleiner oortreding.”

Die ouer het ook gemeld dat die twee volwassenes wat saam op die boot was op borgtog van R1 000 elk vrygelaat is. “Die twee volwassenes verskyn weer Vrydag 5 Oktober in die hof waar hulle ’n aansoek sal indien om die boot terug te kry.

’n Woordvoerder van Gansbaai-polisie, AO Wynand le Roux, het bevestig die minderjariges se sake is teruggetrek en die twee ouer mense het ’n boete van R1 000 elk gekry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.