Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sal ons as mens dié landgenote ooit kan wys wie’s baas?

Die verstedelike mens en bobbejaan se kind sit al donkiejare by wyse van spreke nie langs dieselfde vuur nie.

So word die bobbejaantroppe in stedelike gebiede in die suidwes-Kaap net al groter en groter – van Ceres in die noorde tot die Kaapse Skiereiland in die suide en die Overbergse kuslyn aan die ooste.

Tot dusver is dit ons verlangse nefie wat die oorhand het. Die groenes en sogenaamde “bunny huggers” is vinnig om te sê bobbejane was voor ons hier; ons moet hulle uitlos. Dis natuurlik bog – ons het ongetwyfeld gelyk aangekom, aangesien Homo sapiens en Papio ursinus (Kaapse bobbejaan of “chacma baboon”) evolusionêr gesproke identiese voorouers het.

Dít gee baie mense reeds die bobbejaanstuipe.

Dertig jaar gelede was daar in die berge bokant Hermanus net een trop wat begin het om huise in Voëlklip te plunder op soek na kos.

Natuurbewaringsbeamptes het die probleem eenvoudig opgelos deur draadvanghokke in die Fernkloof-natuurreservaat te stel en soms tot tien of meer op ’n slag van kant te maak.

Vandag is daar drie troppe wat net soos al die troppe elders behoorlik deur die politieke korrektes beskerm word, want nie net het alle landsburgers deesdae gewaarborgde menseregte nie, maar ook alle burgers van die berge gewaarborgde bobbejaanregte.

Die gevolg is dat bobbejane nie net vrye toegang tot huise gegun word om te beroof en te beskadig nie, maar selfs diefstal word sienderoë deur die owerhede toegelaat.

Skade wat in al die probleemgebiede aan huise veroorsaak word, beloop ontelbare miljoene, om nie van trauma te praat nie.

Klein bobbejaantjies word deur grotes geleer om deur diefwering te kruip en daarna deure of vensters van binne oop te maak. ’n Vrou vertel dat lede van die trop in so ’n strooptog soms net ’n byt aan al die beskikbare vrugte in ’n vrugtebak in die kombuis gegee, want hulle het ’n kaaskoek ontdek en dié tot die laaste krummel verslind – net so astrant en slinks soos gewoontemisdadigers.

Die Overstrand-munisipaliteit het oor die jare al donderbusse en verfbal­gewere gebruik om die bobbejane te probeer verdryf, ’n elektriese heining van 1,3 km gespan, sogenaamde bobbejaanmonitors aangestel – alles pure verniet.

Die bobbejane het net slimmer geraak, vinniger begin aanteel en rusies veroorsaak onder die tweebeen-primaat-deskundiges en verteenwoordigers van verskillende owerheidsvlakke oor waar die geld vandaan gaan kom vir die volgende meesterplan wat weer eens net mislukking as waarborg sal hê.

Niemand het nog ooit die klaar­blyklike durf hardop uitspreek nie, naamlik om ’n trop op ’n slag uit te dun. Bobbejane is allermins ’n beskermde spesie, en in elk geval is daar derduisende troppe in berge en bosse buite stedelike gebiede waar die spesie in vrede weg van mense kan leef.

Jy het ’n kombuis, nie waar nie?

Dalk het jy ook ’n plek waar vlieë jou soms verpes, of kakkerlakke, of miere. Jy het dalk ’n tuin waar allerhande goggas, wurms en slakke jou plante opvreet. Dalk moes jy selfs al ’n muis- of rotplaag beheer het. Eenvoudig – jy gaan na die naaste supermark en koop soveel Rattex, Doom of Blue Death as wat jou hart begeer.

Niemand is gebodder oor miljoene klein stukkies ekologie wat daagliks uitgeroei word nie, maar bobbejane is anders – hulle is so oulik, want hulle laat ons so baie aan mense dink. Inderdaad ontmasker hulle ons vir die ape wat ons is.

Moreel gesproke kan daar geen verskil wees tussen die uitroei van slakke wat jou tuin verniel, muise wat in jou garage kom nesmaak, of bobbejane wat jou huis plunder nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.