Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skoolkinders pak mekaar met vuiste

’n Gewone dag by Kleinmond Primêr het lelik skeefgeloop nadat twee gr. 7-leerders in ’n bakleiery betrokke geraak het.

Die bakleiery het amper gevaarlik geëindig toe die een leerder glo ’n mes en ’n gholfstok gaan haal het om die stryd voort te sit.

Die artikels is dadelik deur ’n personeellid afgevat en albei leerders is geskors.

Die onnodige vuisgeveg tussen ’n Xhosa­sprekende en ’n Afrikaanssprekende leerder het in ’n rasse-uitval ontaard.

Van die ouers beweer dat Roderick Brikkels, die hoof van Kleinmond Primêr, rassisme aanhits deur leerders van verskillende rasse verskillend te hanteer.

Die gemeenskap het die dag ná die voorval ’n betoging voor die skool gehou omdat hulle van mening was dat Brikkels glo soms bruin leerders se kant bo dié van hul Xhosa-klasmaats kies.

’n Ouer van een van die leerders wat in die bakleiery betrokke was, sê sy seun is eerste met ’n klip gegooi, waarna die bakleiery uitgebreek het. Die ouer se naam word verswyg om die identiteit van die minderjarige leerder te beskerm.

“My seun het vir homself opgestaan en homself net beskerm. Dis tóé dat die ander seun weggehardloop en ’n mes gaan haal het. Die bakleiery is gelukkig gekeer voordat die mes gebruik is.”

Die ouer glo dat die skoolhoof leerders teen mekaar afspeel. “My seun verstaan nie Afrikaans nie; hy praat net Xhosa. Maar wanneer hy voor die hoof in sy kantoor moet verskyn, praat die hoof net Afrikaans met hom. Dis mos nie regverdig nie?”

Sy seun het glo ook al van die klagtes self probeer oplos.

“My seun is intussen terug skool toe, want dit is amper eksamentyd,” voeg die ouer by.

Brikkels is op tydelike verlof geplaas terwyl die Wes-Kaapse onderwys­departe­ment die voorval ondersoek. Rachel Goliath, adjunkhoof by die skool, staan sedert die voorval as skoolhoof in.

“Die skool het verlede Vrydag soos gewoonlik voortgegaan en albei leerders is sedertdien weer terug by die skool,” sê Goliath.

Die twee seuns sal binnekort in ’n verhoor verskyn wat hul toekoms by die skool sal bepaal.

Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het bevestig dat die departement besig is met ’n ondersoek.

“Ons sal die pad vorentoe op grond van die ondersoekverslag bepaal,” het Merton gesê.

Brikkels is genader vir kommentaar, maar het dit van die hand gewys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.