Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
So kom ons om: Dalk is dié soort verwoesting tóg vordering

Soms is dit glad nie maklik om positief te dink of te voel oor wat om ’n mens aangaan nie – in die land as geheel, maar ook op jou voorstoep. Om in sulke tye humor te vind, is soos om bloed uit ’n klip te tap.

Neem byvoorbeeld die biblioteek in Zwelihle. Die biblioteek is in gewelddadige onluste in Maart aan die brand gesteek en ’n groot deel van die gebou en boekery is verwoes. Van die boeke wat wel gered kon word, is na die streekbiblioteek in Worcester geneem met die veronderstelling dat hulle daar veiliger sal wees.

Ook maar goed so, want in die volgende ronde anargie en gepaardgaande verwoesting in Julie is die biblioteekgebou wat darem nog met sy blou dak daar in Hlobestraat gestaan het, tot op die grond afgebrand.

Die biblioteek is in 2001 geopen, feitlik langs die hoërskool, met die gedagte dat leerders vir eens ’n broodnodige gerief tot hul onmiddellike beskikking het, aangesien die skool met meer as 1 000 leerders nie ’n biblioteek van sy eie gehad het nie.

Maar die nuwe gerief was ook ’n sieraad as geheel vir die gemeenskap, en het inderdaad oor ’n formidabele boekery beskik. Veral die naslaanafdeling in ’n aparte vleuel was indrukwekkend: Rakke vol dik boeke en lang rye ensiklopedieë waarin gesaghebbende kennis oor haas elke onderwerp onder die son gratis tot almal se beskikking gestel is; ’n ruim vertrek gevul met prettige plakkate teen die mure is ook vir kinders ingerig.

Ek het mettertyd self die biblioteek begin gebruik vanweë die magdom splinternuwe boeke en ook omdat dié biblioteek veel minder druk besoek word as die biblioteek in Hermanus. En so kom ek agter dat die biblioteek bitter min leners het – selfs titels in Xhosa is nie eens ’n enkele keer uitgeneem nie.

Die biblioteek was dus uit die staanspoor ’n wit olifant, ten spyte van ’n groepie besluit­nemers se klaarblyklike goeie bedoelings. Wat hulle in hul idealisme nie besef het nie, is dat honger mae kos nodig het, nie boeke nie.

En kort op die hakke van die drang na kos is die drang na grond, hoewel jy dié net soos boeke nie kan eet nie en daardie drang op sigself vir sekeres aan die ander kant van die draad reeds erge maagpyn gee.

In dieselfde tyd dat die biblioteek finaal verwoes is, is ’n klein museumpie wat dapper maar ongesiens as ’n toerisme-trekpleister gedien het, byna net so ongesiens deur die woedende massas van die aardbol geveeg.

Net om die draai daarvandaan het ’n gemaskerde man ’n kat aan ’n tou rondgeswaai en daarna in ’n vuur brandende bande gewerp.

Nuus hieroor het soos ’n veldbrand versprei en mense reg oor die aardbol het hul woede op sosiale media uitgespreek.

’n Vet beloning is uitgeloof vir inligting wat die skuldige aan die pen sal laat ry, terwyl die nasionale raad van die dierebeskermings­vereniging, gesetel in Alberton, die saak steeds ondersoek met die hoop op ’n suksesvolle skuldigbevinding.

Als goed en wel, maar intussen het geen haan gekraai na die totale vernietiging van ’n hele biblioteek nie, nog minder ’n museum.

Nuwe sinkdakhokkies verrys nou met rasse skrede op alle “verowerde” gebied.

Dalk is dit tóg vordering.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.