Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sonde met die ’paliteit

Eenkeer in die jaar toet bou ons vir ons ’n kliphuisie op ’n Bolandse dorp. En toe dit nou klaar is, kan ons ook nie wag om in te trek nie.

Dis glad ’n hele affêring soos die goed van die lorrie af kom en met moddervoete ingedra word. Was daar matte, sou ons seker knopbek trek vir die een Ampie en hom ’n behoorlike komberspreek gee. Regte labberlot wat g’n snars omgee vir iemand anders se aardse goedjies nie!

Ander een weer loop so kwingkwang (sig-sag) met ’n boks glase dat ’n mens skoon bang is hy verongeluk homself nog voor sy lugsak kan ontplooi.

Ewenwel, later is elke ding op sy plek, maar wat nog nie plek het nie, is die drom. Dis reg ja, die drom, ons soek een van daai groot swartes met die deksel en die wieletjies onderaan. Dis daai wat die ’paliteit mos moet gee vir elke nuwe huis. Maar intussen sit ons maar die swartsakke op die sypaadjie.

Wanneer die lorrie kom, vra ons die stuurman om tog vir ons ’n drom te bring. Maar hy lyk soos ’n regte pappeling wat lappe trap en enige oomblik aan die slaap kan raak.

So gaan die weke om en ons raak ook nou al befomfaai vir die besigheid. Wie wil nou heeltyd in vullis vaskyk wat in ’n drom hoort?

Gaan vra toe maar self by die plaaslike owerheid se diknekke of hulle dan nou nie vir ons, nuwe intrekkers, ’n drom sal bring nie.

En ons wag.

Op ’n dag kom ’n brief in die pos. Dis van die munisipaliteit. Die bure het gekla oor daar heeltyd swart sakke op ons sypaadjie is en sal ons dit nie asseblief verwyder nie. En ons skryf terug: “Wil u nie maar, soos dit hoort en soos ons al herhaaldelik gevra het, vir ons ’n drom saam met die lorrie stuur nie?” Maak ook nie eintlik saak hoe dit hier kom nie, al moet julle dit ook nou spesiaal invlieg en met ’n hommeltuig aflewer, bring tog net vir ons ’n drom. Ons belowe ons sal die swartsakke daarin sit.

Uiteindelik behaag dit die here van die munisipaliteit en ons kry ons drom. In ons skik, sien, ons sing skoon psalms. Maar toe kom die boggerop, en dinge neem ’n onverwagse wending.

Presies een week later kom ons tuis en daar staan nóg ’n drom op die sypaadjie neffens die ander een. En ons sing dié keer gesange, want nou kan ons tuinafval in daai een gegooi word. Nou gaan dit lekker.

Maak drie weke later die voordeur oop nadat die lorrie weg is, en nou staan daar drie dromme. En die week daarna groei dit aan tot vier en later tot vyf. En ons slaan die landlyn na die munisipaliteit om te rapporteer. “Maar u het mos vir ’n drom gevra?” “Ja, maar nie vir vyf nie. So julle moet vier kom haal.” “Reg so, meneer, ons stuur ’n bakkie.”

En daardie oggend groei die dromme toe sowaar aan tot ses. Die bakkie het nóg een afgelaai. Die ander staan ook nog net so. Ons bel, maar kom nie deur na die munisipaliteit nie. Stuur later ’n telegram: “KOM HAAL JULLE VYF DROMME stop. DRINGEND stop.”

En ons wag.

Vier weke later is daar weer ’n brief van die munisipaliteit. “Dit het onder ons aandag gekom dat u ses dromme op die sypaadjie voor u huis laat staan. Ingevolge munisipale ordonnansies mag u net een hê. Ons versoek dus dat u vyf dromme verwyder.”

Nou kyk, ’n man is ook nie ’n klip nie en ons is nou al lus om iemand te belaster. Skryf toe weer ’n brief en stuur dit per geregistreerde pos. “Ons het nie vir ses dromme gevra nie, maar vir een. Ons het dit reeds aangemeld, maar dis steeds hier. Indien u nie u dromme binne drie dae ná ontvangs van hierdie skrywe verwyder nie, sal ons dit verkoop en die geld aan die SPCA skenk. Die uwe.”

Tóé kry die menere lewe. ’n Dag later daag ’n tientontrok met ’n láng sleepwa op en hulle vat die vyf dromme terug. Die oordaad, ai tog, altyd die oordaad.

Maar toe het ons vrede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.