Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stroper gevonnis nadat hy beampte probeer omkoop

’n Vermeende stroper van Hermanus is tot vier jaar agter tralies gevonnis nadat hy ’n beampte van die departement seevisserye probeer omkoop het.

Die voorval het volgens hofdokumente aan die begin van 2018 gebeur toe Johnny Schoultz ’n inspekteur van die departement landbou, bosbou en seevisserye (DAFF) R10 000 aangebied het in ruil vir elke stroperboot wat toegelaat word om by Robben­eiland te duik.

Zolile Nqayi, die departement se direkteur: kommunikasie, sê Schoultz het een van die beamptes genader met die voorwendsel dat hy inligting het wat met teenstropery-operasies sou help.

“Dit het aan die lig gekom dat Schoultz ’n vorige veroordeling het in verband met onder meer perlemoenstropery en daarom was sy ongevraagde aanbod om hulp aan te bied, verdag.

“Die polisie se speureenheid is gekontak en goedkeuring vir ’n seksie 252A-optrede is van die Nasionale Vervolgingsgesag verkry. Die uitvoer daarvan het tot die sukses van die saak gelei,” het Nqayi verduidelik.

Nqayi het die beampte, wie se identiteit weerhou word om sy veiligheid te beskerm, vir sy eerlikheid geprys.

“Die departement prys die beampte wat geweier het om omkoopgeld te aanvaar vir sy lojaliteit teenoor die departement en die inwoners van Suid-Afrika deurdat hy die beskuldigde aan die kaak gestel het. Dit bewys dat ons wel beamptes met goeie morele waardes in die direktoraat het.

Die beamptes sal selfs so ver gaan om hul lewe vir die beskerming van Suid-Afrika se marienehulpbronne in gevaar te stel.

“Ons hoop dat hierdie saak ’n sterk boodskap aan die publiek sal stuur om nie eens te probeer om ons beamptes om te koop nie,” het Nqayi gesê.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG in die Wes-Kaap, het by navraag bevestig dat Schoultz Dinsdag ná ’n uitgerekte hofsaak in die Bellville-gespesialiseerde handelsmisdaadhof tot ses jaar tronkstraf gevonnis is, waarvan twee jaar vir tien jaar opgeskort is.

Dit beteken dat hy in werklikheid vier jaar van sy straf agter tralies sal uitdien.

“Die hof het ook gelas dat Schoultz ongeskik is om ’n vuurwapen te besit,” het Ntabazalila bygevoeg.

Volgens Ntabazalila het Schoultz vorige veroordelings vir perlemoenverwante aanklagte ten opsigte van oortredings ingevolge die Wet op Lewende Mariene Hulpbronne.

“Die hof het dit in ’n baie ernstige lig beskou, veral aangesien hy in die laaste saak op grond van ’n pleitooreenkoms korrektiewe toesig opgelê is,” het die woordvoerder van die NVG gesê.

Die departement seevisserye het die vonnis verwelkom.

“Die departement wil die polisie – spesifiek die speurders – en die Nasionale Vervolgings­gesag bedank vir hul rol in die inhegtenisneming en skuldigbevinding van Schoultz.

“Dit is ons wens dat die vonnis swaarder sou wees om ’n sterker boodskap uit te stuur wat sodoende as afskrikmiddel sou dien vir enigeen wat dit sou oorweeg om ons beamptes te probeer omkoop,” het Nqayi gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.