Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stropers baljaar in hawe

’n Groep stropers het verlede week skaamteloos in helder daglig met hul duikpakke vanaf die rotse by die Ou Hawe vir perlemoen geduik.

Oproepe aan wetstoepassingsowerhede soos die polisie en die departement seevisserye (DAFF) om die probleem aan te meld, sê ’n lid van die publiek, het geen resultate opgelewer nie.

“Ek het die polisie, DAFF en Marine Anti-Poaching Unit (MAPU) gebel,” sê die man wat verkies om anoniem te bly. “Hulle het net gesê dankie dat ek dit aangemeld het. Uit die 50 keer wat ek al die afgelope paar maande gebel het, het hulle seker nog net twee keer uitgekom om dit te ondersoek.”

Die ooggetuie sê die vier stropers, geklee in nuwe duikpakke en duikbrille, was duidelik nie daar om te snorkel nie.

“Hulle het goed gehad waarmee hulle die perlemoen van die rotse af steek en sakke waarin hulle die perlemoen sit. Toe ek hulle vra wat hulle doen, het hulle net gelag,” vertel die man. “Die een kon nie eens behoorlik swem nie.”Buit

Dié voorval, sê hy, is soortgelyk aan ’n voorval in Oktober 2018 toe duikers ook een oggend opgemerk is waar hulle met ’n sak perlemoen uit die water by die Ou Hawe gekom het. ’n Draer het toe dood­luiters hul buit gedra na ’n voertuig wat bo die Ou Hawe by die kanonne gewag het.

“Die stropers se brazen audacity,” sê die man, “het die afgelope drie maande toegeneem. Hulle gee nie meer om watter tyd van die dag en waar hulle dit doen nie.”

Op die vraag of dit moontlik gekoppel kan wees aan gerugte dat DAFF-beamptes nie meer oortyd mag werk nie en dus na 16:00 en oor naweke nie meer aan diens is nie, het die man gesê hy dink nie dit hou noodwendig daarmee verband nie.

“As DAFF en die polisie maar net so georganiseerd kan wees soos die stro­pers . . .” het hy gesê. “Die stropers het mense wat van sekere punte uitkyk sodat hulle presies weet wanneer die poli­sie of DAFF kom. Hulle weet ook pre­sies wat om te doen sodat hulle amper nooit met die perlemoen gevang word nie.”

Beamptes verbonde aan DAFF wat op voorwaarde van anonimiteit met die Hermanus Times gepraat het, het bevestig dat hulle vir ongeveer drie maande lank al nie meer oortyd mag werk nie.

Oortyd

“Die manne is bereid om te werk, maar jy kan net soveel doen. As jy oortyd werk, moet jy aanmeld en die nodige toerusting uitteken maar niemand gaan dit teken nie,” het een verduidelik. Hy het bygevoeg: “Ons oortydure is eers met meer as die helfte gesny en nou is dit heeltemal weggevat.”

Nóg ’n DAFF-bron het bygevoeg dat sekere beamptes se reis- en verblyftoelae ook weggevat is.

“Met die gevolg dat daar nou geen spesiale operasies gedoen kan word nie want hoe kan jy van een plek na die ander reis as jy net tussen 08:00 en 16:00 mag werk,” het hy bygevoeg.

’n Betroubare bron in die polisie sê die feit dat DAFF-beamptes nie meer oortyd mag werk nie, plaas ekstra druk op die polisie se hulpbronne wat reeds dun gesaai is.

“Wanneer die mense nie vir DAFF in die hande kry nie, bel hulle die polisie. Ons het nie genoeg hulpbronne en personeel om gewone polisiëring te doen nie, so hoe kan ons nog DAFF se werk ook vir hulle doen?” het die bron gesê. Hy meen dat ’n toegewyde seepatrollie aan die Overbergse kus sal help om stropery op te los.

Die departement seevisserye het teen druktyd nie op enige navrae vir kommentaar reageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.