Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vergadering misluk; bouers betoog

Die vyfde vergadering tussen bouers en kontrakteurs van die Overberg en die departement van arbeid het teleurstellend geëindig nadat geen oplossings gevind is nie.

Die vergadering, wat die afgelope Maandag by die Overstrand-munisipaliteit gehou is, is bemiddel deur Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse parlement, in ’n poging om oplossings te vind vir die konflik tussen bouers en die nywerheids­bedingingsraad vir die boubedryf.

Die bedingingsraad se mandaat om met hul dienste in die Overberg voort te gaan, is in November onderteken en hernu.

“Die bouers stem saam met al die voordele vir hul werkers (wat die bedingingsraad bied) maar hulle sal graag die vryheid van keuse wil hê om die voordele by enige ander organisasie of finansiële instituut te kry,” verduidelik Elnora Gillion, onderburgemeester van die Overstrand, wat ook die vergadering bygewoon het. “Hulle (bouers en kontrakteurs) is van mening dat die bedingingsraad nie enige waarde toevoeg nie en dat die werkers nie daarby baat vind om deel van die bedingingsraad te wees nie,” sê Gillion.

Sy sê die adjunkdirekteurgeneraal by die departement van arbeid het onderneem dat die belanghebbendes geraadpleeg sal word voordat ’n nuwe mandaat onderteken word. Dit het egter nie gebeur nie.

Die vorige mandaat het op 31 Oktober 2019 geëindig en ’n nuwe mandaat is op 25 November 2019 onderteken sonder die adjunkdirekteurgeneraal van die departement van arbeid. “Die mandaat is ook onderteken sonder dat die griewe van die bouers gehoor is,” sê Gillion.

Verteenwoordigers van die departement van arbeid (wat ook die vorige twee vergaderings bygewoon het) het weer eens bevestig dat die mandaat nou as wet beskou word en dat die bouers niks daaraan kan doen om dit te verander nie.

“Die mandaat is deur die minister goedgekeur. As julle glo dat dit ’n verkeerde besluit was, moet julle die saak hof toe vat,” het Thembinkosi Mkalipi, ’n verteenwoordiger van die departement van arbeid, gesê.

“Die mandaat is nou wet en dit moet eerbiedig word.”

Gillion en Mnqasela het aan die einde van die vergadering aangekondig dat hulle hul aan enige verdere vergaderings oor die saak onttrek omdat hulle van mening is dat die fasiliterende rol wat hulle gespeel het, geen oplossings na die tafel kon bring nie.

“Maandag se vergadering was ’n skande en ’n aanval op demokrasie. Werkers en werkgewers is sleg behandel omdat hulle deur die departement van arbeid geminag is,” sê Mnqasela.

“Die departement van arbeid het ten spyte van die beskikbare data en heersende omstandighede verkies om die lot van die kwesbare bouers te ignoreer. Dit is die eerste keer dat werknemers en werkgewers mekaar aan die ontvangs-kant van dieselfde wette wat hulle eintlik moet beskerm, bevind.

“Ons het alle onderhandelinge met die departement van arbeid opgeskort totdat die nasionale minister van arbeid homself beskikbaar stel om met die geaffekteerde partye te praat. Ons wil die mandaat uitsorteer en ons wil dit dringend doen. Die gaan oor die lewensbloed van die dorp, wat ons bouers is,” sê Mnqasela.

Die ontstoke bouers het ná die mislukte vergadering twee keer betoog – by die BIBC se kantoor in Mimosastraat en Dinsdagmiddag by een van die bestuurders van die BIBC se huis in Vermont.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.