Lede van Bredasdorp se VLV-tak het hul jaarlikse afsluiting Dinsdag 3 November gehou.
Dit was ’n moeilike jaar vir menige, maar die vroue het vasgebyt en deurgedruk – al moes hulle die grootste gedeelte van die jaar virtueel vergader.
Bredasdorp VLV se mees senior lid, Marie Spamer, wat vir die grootste deel van die inperking in afsondering in haar woonstel in die Suideroord-tehuis vir bejaardes was, het Dinsdag se geleentheid só opgesom: “Dit was ’n waardige en aangename afsluitingsvergadering ná ’n deurmekaar en onseker jaar. Ek voel baie trots op ons tak. Doen so voort.”
Die tema van die middag se geleentheid was Spaans Mediterreens met Spaanse tapas, en om daarby te pas, ’n uitvoering van onder meer die Spaanse tango deur die plaaslike dansinstruktrise Adèle Dreyer en drie van die dansskool se lede. Bekers en ruikers is oorhandig en inligting is deurgegee oor die tak se projekte wat voortgegaan het.
Die bestuur het aangedui dat hulle gereed en oorgehaal is om 2021 met ’n entoesiastiese span aan te pak.