Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vriende tel saam pen op

Hoe het die idee vir die boek ontstaan en hoe het dit gebeur dat jy en Analize Viljoen saam daaraan geskryf het? Ek en Analize het een naweek op WhatsApp gesels. Sy het nie ’n lekker dag gehad nie en het emosioneel gevoel. Ek het voorgestel dat sy haar gevoelens as fiksie neerskryf. Om haar aan te moedig, het ek voortgebou en ’n verdere paragraaf geskryf. ’n Rukkie later het ons besef ons het ’n verhaal en die boek is gebore. Net so, sonder ’n gesukkel.

Waar speel die boek af; is daar ’n bietjie van Kleinmond in die boek wat plaaslike lesers sal herken? Ongelukkig nie! Dit speel by ’n fiktiewe kompleks, Amandelboom, in Kaapstad en ook in Doebai af. Die dele wat in Doebai afspeel, is baie interessant en ek het geweldig baie van die kultuur daar geleer – natuurlik ook gedeeltes van die kultuur wat my koue rillings gegee het! Analize het ’n klompie jare daar gewoon en kon dus met gesag daaroor skryf. Maar hou dop, ek werk aan ’n manuskrip wat in Kleinmond afspeel, en dan is daar ook iets wat ek beplan wat in ’n ander deel van die Overstrand afspeel.

Vertel ons meer van die hoofkarakters Billie en Manda en hul diere? Billie en Manda is twee doodgewone vroue met doodgewone probleme. Hulle is bure in ’n kompleks en raak betrokke by mekaar se lewe deur oor en weer te kuier, al is hulle so verskillend soos die Sahara en Antarktika. Manda is enkellopend met haar kat, Jasmyn, as enigste geselskap, en Billie het ’n lekker lewendige hond, Tequila, vol energie – net soos sy. Die diere veroorsaak aanvanklik ’n gebeurtenis wat spanning veroorsaak, maar wat hulle dan uiteindelik nader aan mekaar bring. Die rol van troeteldiere in mense se lewe loop subtiel deur die verhaal.

Van die hooftemas in die boek is die verskillende vorme wat liefde en vriendskap aanneem. Wat kan lesers uit Billie en Manda se storie van hierdie onderwerpe leer? Die verskeidenheid vriendskappe en verhoudings wat moontlik is tussen mense van verskillende genders en kulture, is iets wat ontgin word. Patriargale stelsels in ander kulture word ook gestel teenoor toksiese verhoudings tussen mense in dieselfde kultuur. Die weerloosheid van die mens, interaksie van die gee en neem binne verhoudings en onvoorwaardelike aanvaarding is subtemas.

Wat was van die hoogte- en laagtepunte in die skryfproses van hierdie boek en hoe het jy dit hanteer? Hoogtepunte was baie. Dit was ’n verskriklike opwindende proses om saam met Analize aan ’n manuskrip te werk. Ons omhels die geleenthede wat tegnologie ons bied en het op een dokument gewerk sodat ons letterlik kan sien hoe die ander een tik en uitvee. Die skeppende proses van die interaksie, en die manier wat ons mekaar kon inspireer, was hoogtepunte wat uitstaan. Laagtepunte? Niks. Dalk net die frustrasie van wag. Die meule van ’n uitgewer maal stadig, die uitgee van ’n boek behels baie prosesse om te verseker dat die beste produk moontlik op die rak beland. Dit het ons uitgewer, Lapa, uitstekend gedoen.

Vertel ons meer van jou reis as skrywer. Waaroor het jou eerste storie gehandel en is daar enige spesifieke tema wat deur al jou stories weef? My heel eerste kortverhaal is in 2000 gepubliseer en daarna het ’n hele klompie kortverhale in verskeie saamgestelde bundels deur verskillende uitgewers gevolg. Ek het in 2013 ’n kortverhaalbundel saamgestel waarvan alle tantième vir welsyn gegaan het. My kort vir jou sop het baie goeie publisiteit gekry en ons kon baie honger monde in Kleinmond daarmee voer. Dan is Erfskandes (’n novelle) ook op Amazon as ’n e-boek beskikbaar. Dit is ook goed deur lesers en resensente ontvang. ’n Tema dwarsdeur al my verhale is onwaarskynlike vriendskappe tussen gewone mense.

Wat doen jy wanneer jy nie besig is om aan stories te werk nie? Ons bedryf ’n gastehuis in Kleinmond, wat selfsorg-vakansieverblyf bied. My man en ek doen al die werk self; dit hou ons baie besig. Saam met Analize bedryf ek ook Boekemakranka. Ons was vanjaar baanbrekers met die aanlyn skrywersgesprekke en aanlyn boekbekendstellings. (www.boekemakranka.co.za). Verder bou en onderhou ek webtuistes, en ek verwerk en verkoop ander skrywers se e-boeke op Amazon. Op my eie webblad kan jy ook meer sien hoe ek in my middel-sestigs fiks bly, met paalfiksheid (www.trisahugo.co.za). Dan maak ek ook hierdie maand klaar met my studies om my as hipnoterapeut te bekwaam.

Kan jou lesers uitsien na enige ander stories uit Trisa Hugo se pen? Gewis! Twee is aan die broei, waarvan ek een weer saam met Analize skryf.

Waar kan lesers ’n kopie van Oor en Weer in die hande kry?Bargain Books en PNA Whalecoast het op die oomblik voorraad. Die Book Cottage wag nog vir voorraad, maar sal intussen vir jou bestel. Graffiti-boekwinkel bied dit tans teen afslag aan as jy dit daar bestel. Dis natuurlik ook regstreeks by Lapa-uitgewers beskikbaar en vir jou Kindle kan jy ’n e-boek-weergawe op Amazon kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.