Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vuurmaak is in ons bloed

Ons braaivleis en potjiekos kom saam met ons geskiedenis in hierdie land. Ons voorvaders was hardebaarde en hulle het nie ’n gasbraai met hulle saamgevat terwyl hulle oor die berge en vlaktes van Afrika trek nie.

Hulle moes jag vir die pot en die bederfbaarste organe eerste eet. Sommige dele van die karkas is met sout bestrooi en opgehang, ander is in repe gesny, met koljander en peper gegeur en gedroog tot biltong.

Om die kos gaar te kry, is gekook en gebraai. Daarvoor moes jy vuur maak. Dit is verstommend hoeveel mense vandag nie weet hoe om vuur te maak met hout nie.

Jy begin met koerantpapier en lees ook die nuus van vroeër. “Om te staak, is onnies se goeie reg”, en “Dit gaan sukkel, maar ons kan mynbou omkeer” en “Voed jou baba reg, selfs voor geboorte”.

Die koerantpapier word opgefrommel en in die braaiplek gesit. Nou gaan haal jy fynhout (bly weg van selonsroos, dit is giftig). Stroop die blare af, dit maak net as wat die hele wêreld vol dwarrel.

Die fyn takkies word kleiner gebreek en oor die koerant gepak. Jy moet baie fynhout hê, want dit brand gou uit. As jy op die grond vuurmaak, kan jy trap daarop om dit digter teen mekaar te kry.

Bo-op die fynhout kom dikker stokke, dan jou stompies. Ek het geleer vuur ­maak met wingerdstompies wat krom en skeef is, jou vuur het nie ordelik gelyk nie. Ek het eers later kom leer dat as ’n mens rooikrans en swart wattel gebruik, jy die stompe netjies oorkruis kan pak.

Jy steek die vuur aan met ’n vuurhoutjie, want jy wil die swael ruik en boonop kyk of jy dit nog met net een vuurhoutjie kan maak soos by jou oorlewingskamp as kind. Trek die vuurhoutjie, hou bakhand voor tot jy ’n goeie vlammetjie het, steek die koerantpapier aan die brand op een, twee, drie, vier plekke, gooi die vuurhoutjie in die vuur net voor jou vinger brand.

Die vlamme kielie aan die fynhout, dit begin stadig brand en maak ’n klomp rook. Blaas bietjie om dit aan te moedig en skielik brand die vuur hoog, daar is baie vlamme en dit knetter en suis en raas – ’n aardigheid. Jy staan terug en beskou jou handewerk. Iemand gee vir jou ’n glas wyn aan, want ’n vuur sonder wyn is soos ’n tjop sonder sout.

Vuurmaak is ’n man se ding. As jy ’n man se vuur kritiseer, kritiseer jy hom tot in sy diepste wese. Jy kan ’n man se kar slegsê, jy kan sê sy kinders is dom en sy vrou is lelik, maar jy karring nie aan sy vuur nie.

Tog vat die begeerte my so dan en wan dat ek moet vuur maak, net soos sakkoffie drink en kettie skiet. Sulke tye weet Graham om hom eenkant te hou. Hy mag nie houtkap nie, hy mag nie fynhout maak nie, hy mag niks doen nie. Die Mevrou is besig om met haar innerlike Suid-Afrikaner te konnekteer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.