Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Gansbaai dra ligakroon

Gansbaai Academia se vroue-rugbyspan het koning(in) gekraai by die vrouerugbytoernooi wat die afgelope naweek in Hawston gehou is.

Dié span is ook as die wenner van vanjaar se Overberg-vrouerugbyliga gekroon.

Altesaam agt spanne het Vrydag 30 Augustus op die Hawston-sportterrein kragte gemeet in die laaste Overberg-ligawedstryde. Die meisies van Gansbaai Academia en die sekondêre skole Groenberg in Grabouw, Albert Myburgh in Bredasdorp, Kleinmond, Swellendam, Hawston en Emil Weder in Genadendal het in die uitdunrondes teen mekaar gespeel.

Emil Weder het Swellendam geklop, die meisies van Gansbaai Academia het hul teenstanders van Albert Myburgh uitoorlê en Hawston het in die wedstryd teen Groenberg as die oorwinnaars uit die stryd getree.

Medaljes

Die vroue van Kleinmond het in die eindstryd teen die o.17-Boland- uitnodigingspan gespeel wat vandeesmaand na Mosambiek gaan toer. Die uitnodigingspan het sy teenstanders van Kleinmond vinnig kafgedraf en meer as 60 punte aangeteken.

Gansbaai is as die vrouerugby-ligawenners gekroon en het die ligatrofee, geskenk deur Wildcat Inflatables, verower. Die spelers van die onderskeie spanne het ook medaljes gekry.

Michelle Bosch, bestuurder van die Bolandse uitnodigingspan, het die Hawston Skrik vir Niks-rugbyklub, die plaaslike gemeenskap, die afrigters en Claire Philander bedank vir hul hulp om van Vrydag se toernooi ’n sukses te maak.

“Claire van Hawston Sekondêr het baie moeite gedoen en al die reëlings vir Vrydagaand se toernooi perfek uitgevoer. Ons waardeer al haar hulp met die Overberg-liga. Sy dra vrouerugby op die hart en ’n mens kan sien die Hawston-vrouerugbyspelers floreer onder haar vaandel. Dankie ook aan al die ouers wat van ver af gekom het om hul dogters te ondersteun,” het Bosch bygevoeg.

Die toernooi het gedien as ’n geldinsamelingsprojek vir twee uitnodigingspanne wat na Mosambiek gaan toer, waar hulle teen twee vrouerugbyspanne daar sal kragte meet. Die uitnodigingspanne se afrigter, Thomas Chowles, en sy hulpafrigter, Denvar August, sal ook in Mosambiek klinieke vir spelers en afrigters aanbied.

“Ons wil graag die Breedevallei-munisipaliteit bedank wat R1 500 elk vir die meisies van sy streek geborg het,” het Bosch gesê. “Ons het goedhartige individue gekry wat skenkings gemaak het en ons glo en vertrou dat ons teen 20 September die nodige geld sal hê vir die meisies om op toer te gaan.”

Ondersteuning

Die toergroep sal in Port Elizabeth stop om Saterdag 21 September die wedstryd tussen die SA vrouerugbyspan en hul eweknieë van Spanje te kyk. Hulle speel Maandag 23 September in Welkom teen twee spanne van die Griffons en vertrek dan na Mosambiek.

Die senior vroue- en o.17-spanne sal teen hul eweknieë in Maputo speel. Die Mosambiekse rugbyfederasie bied twee dae gratis verblyf met ontbyt en aandete vir die spanne.

Die groep sal Vrydag 27 September na Potchefstroom reis waar hulle Saterdag 28 September teen die Luiperds sal kragte meet voordat hulle terugkeer huis toe.

Chowles en Bosch het hul dank en waardering uitgespreek teenoor die Grootbos-stigting wat die bus, busbestuurder en diesel vir die reis borg.

“Grootbos gaan ook die meisies se uitrustings borg,” het Bosch opgewonde gesê.

Volgens die spanbestuurder het die toerspan min ondersteuning van plaaslike organisasies en ondernemings gekry.

“Maar dit keer nie die meisies om op te daag en hul harte uit te speel nie,” het sy gesê. “Ek het nog nooit soveel lojaliteit gesien soos onder dié groep meisies nie. Hul dissipline is perfek en hulle speel met soveel passie dat dit ’n knop in jou keel laat.”Enigeen wat die meisies wil ondersteun kan Michelle Bosch by 076 503 5637 of Thomas Chowles by 071 807 4835 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.