Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Strawwe seisoen wag op Hawston

Hermanus Times het gaan gesels met die hoofafrigter van die streekkam­pioen, Hawston Skrik vir Niks RVK, Anton Esau, oor die komende seisoen en hoe hy dink sake gaan verloop.

Volgens Esau het die klub reeds op 7 Januarie begin oefen en tot dusver woon 80% van die eerstespanspelers die oefeninge gereeld by.

“Ek dink die nederlaag verle­de jaar in die top-12 teen Roses is nog vars in baie se geheue al weet ons ons moet opstaan en aanbeweeg. Die wedstryd was vir almal ’n leerskool. Baie het foute in hulself en selfs in ander spelers begin soek. Ons oefen tans by die strand. Dis goed vir die fiksheid. Ons hou ook ’n oefenkamp op 25 Janu­arie dáár. Ons sal eers van 28 Januarie op die sportterrein begin oefen,” sê Esau.

Hy vertel die span se doelwit­te vir 2020 is baie kleiner en meer doelgerig.

“Ons het besef dat die Over­berg die mees kompete­rende streek in die Boland-grootuit­daag­reeks is. Ons eerste doelwit is dus om eers die streek te oorleef en te wen. Ons wil elke wedstryd met dieselfde intensi­teit en respek vir ons teenstan­ders benader. Van ons spelers gaan binnekort hul tokse vir goed ophang. Ons sal dus alles wat ons hierdie jaar doen met 20% meer doen indien ons weer die streek wil oorheers. Die klub verloor ook ’n speler of twee wat ons verlaat het om persoonlike en studieredes. Een of twee spelers het ook ’n goeie kans om hierdie jaar meer vir die Boland-Kavaliers as vir die klub te speel. Hulle is Brendon Hunter en Arno Fortuin. Indien dít die geval gaan wees, beteken dit ons moet ’n ander of tyde­like kaptein aanwys. Gelukkig het ons baie ander senior spelers om die rol van kaptein te vervul.”

Die span word verder nie te veel geraak nie. Hawston Skrik vir Niks spog ook met ’n nuwe aanwins, Ganfried May. Hy is ’n senter en heelagter en het al vir die SWD Arende en die Blou Bulle uitgedraf.

“Ons eerste wedstryd sal heel waarskynlik teen die nuweling Kleinmond wees. Ek reken Bredasdorp Rangers gaan dié span wees om te klop. Dié span is vir twee jaar ongelukkig om net-net die top-12 te mis. Die manne speel goeie, gestruktu­reerde rugby en is doelgerig.”

Esau noem dat hulle nog nie seker is of daar vanjaar ’n Gold Cup-toernooi gaan wees nie, maar hy bespiegel dat indien daar een gaan wees, gaan dit moontlik teen die einde van Februarie in Wellington afskop waar 20 Boland-spanne ook in die Grootuitdaag sake sal uitspook.

“Ek weet nie of die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) al ’n borg bekom het om hierdie kompetisie te laat voortgaan nie. Indien dit sal voortgaan, sal ons reg wees. Ons vriend­skap­like wedstryde is tuis op 8 Februarie teen Bella Vista van Ceres en op 15 Februarie speel ons in George op Outeniquapark (ons is nog nie seker teen wie ons speel nie) en dan Newtons van Wellington ook tuis. Voorlopig sê die unie die ligawedstryde begin op 14 Maart.”

Hy vertel verder dat Gold Cup-wedstryde in die Boland volgens die Unie op 29 Febru­arie gaan begin waar 20 spanne gaan meeding. Dit sluit in Hawston, Caledon en Rangers Bredasdorp uit Overberg.

“Safcol van Grabouw speel op 22 Februarie in Wellington om te bepaal wie die 20 ste span gaan wees. Op 7 Maart speel die tien wenners weer uit om die oorblywende vyf van Boland te bepaal. Saldanha, wat die Boland-kampioen is, dring outomaties deur wanneer SWD, Boland en WP mekaar pak,” sluit Esau af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.