Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Ek sê: Rubriek: Kuier tussen boekrakke

Ek krap onlangs in ons deurmekaar motorhuis op soek na iets en kom af op ’n stowwerige boks propvol ou tydskrifte wat ek gehou het vir wanneer my dogter dit dalk eendag sal nodig kry vir ’n skooltaak.

Toe tref dit my soos ’n weerligstraal: Kinders blaai nie meer in boeke of tydskrifte rond op soek na inligting of prente vir hul take nie.

Daarvoor is daar mos Google . . .. Met die druk van ’n paar knoppies kan jy in ’n japtrap al die inligting kry waarvoor jy soek.

Nie soos in my skooldae-jare toe ons die lang pad biblioteek toe moes aandurf nie.

Sulke tye het later ontaard in ’n sosiale uitstappie – vriende het afsprake gemaak om saam biblioteek toe te gaan of mekaar daar te ontmoet om sodoende mekaar te help om die nodige navorsing te doen.

Daar gekom moes jy tussen die rye rakke soek vir die boek of boeke wat jy nodig het en baie hard hoop en bid die ander kinders in jou klas het nie die betrokke boek voor jou in die hande gekry nie.

Anders moes jy maar geduldig jou beurt afwag want baie van die naslaanboeke mag jy mos nie huis toe gevat het nie.

Vir my was dit gewoonlik nie ’n probleem nie want ek is ’n boekwurm wat sommer gou iets anders gekry het om te lees.

Vir ander was dit die ideale tyd om geselsies aan te knoop met die ander kinders wat ook daar was om hul take te kom klaarmaak.

Wanneer jy uiteindelik die boek kon kry, moes jy ure lank rondblaai op soek na die inligting om jou taak te voltooi.

As jy gelukkig genoeg was het jou ouers vir jou geld gegee om afdrukke te maak van die blaaie en blaaie vol feite sodat jy nie jou vingers hoef lam te geskryf het nie.

Dis nou te sê as jy nie langs die pad die geld uitgegee het op tjips, koeldrank en lekkers nie . . .

In daardie geval moes jy maar jou potlode skerpmaak of hoop dat jou pen se ink nie opraak voor jy als neergeskryf het nie!

Dit was in die goeie ou dae toe mense nog tyd gehad het of tyd gemaak het om meer gereeld oor en weer by mekaar te kuier.

Maar deesdae is dit makliker om voor jou rekenaar of met jou foon of tablet te gaan sit en op WhatsApp, Skype of Facebook te chat.

  • Die moderne toeps (maak dit maklik om in kontak te bly met vriende en familie van heinde en verre.

Maar dis nie vir my so lekker soos om face to face te kuier met my pêlle nie.

Dit bly vir my die lekkerste om met ’n warm koppie tee en ’n bord koekies, of ’n yskoue bier (dalk drie) rondom ’n braaivleisvuur te kuier.

Dit laat my dink aan ’n paar takies wat ek by die huis moet klaarmaak – ’n boekrak wat teen die muur gehang moet word en die motorhuis wat reg gepak moet word.

Dalk kan ek soos in die goeie ou dae ’n pel of twee oornooi om my met my taak te help?

Dan kan ons soos met die skooltake die werk sommer gesels-gesels kafdraf en agterna kuier!

Ek is bereid om die favour te return .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.