Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hermanus Times
Sketse van Kenia – Van die Springbokke tot die Mau-Mau

Kenia. Die naam alleen roep beelde op van uitgestrekte savannah-grasvlaktes, van wildtroppe so groot dat jy hulle nie kan tel nie, van die skouspel van massas widebeeste wat migreer en in hul duisentalle honger krokodille te prooi val. En jy dink onwillekeurig aan Karin Blixen en haar plaas in Afrika, briljant vertolk deur Meryl Streep in die aangrypende rolprent Out of Afrika, waar sy haar verhaal in haar hees, sielvolle stem met die Deense aksent begin met die onvergeetlike strofe, “I had a farm in Africa…”.

Ja Kenia, die land in sentraal Afrika, tuiste van die robuuste Kikoejoe en die lenige  Massai. Beeswêreld. Die land wat ook deur Britse imperialisme gevat is en staangemaak is as nog ‘n juweel in die koloniale kroon. Die grond en klimaat was geskik vir koffieverbouing. Die “White Highlands” was  ‘n gesogte bestemming vir ‘n Engelsman wat wou wegkom uit Brittanje met sy inflasionêr-gestremde ekonomie en die koue en die ewige reën en die beknopheid. Kenia het ‘n fortuinsoeker alles gebied wat die Britse eiland nie gehad het nie: ruimte, ‘n gesonde klimaat en bowenal, sonskyn, sommer in oorvloed. Behalwe dat jy hartelus  kon jag maak op eksotiese diere, was daar boonop volop  goedkoop arbeid vir jou nuwe plaas.

In 1915  maak 5 186 Britse setlaars hulself op die beste grond tuis. Maar lank voor Kenia se amptelike kolonialisering in 1921, onder die beheer van  ‘n Britse goewerneur, was daar reeds ‘n groepie Afrikaners gevestig, na-trekkers wat na die vernietigende Tweede Vryheidsoorlog ‘n beter heenkome daar gaan soek het.  In Eldoret was daar  ‘n stewig-gevestigde Arikanergemeenskap, wat met sukses daar geboer het -  ‘n taak waarvoor hulle uitstekend toegerus was, want hulle het hul tande geslyp in die ou Transvaal, wat nie ‘n plek vir ‘n swakkeling was nie. En ek kan sweer Karin Blixen se plaasbestuurder was ‘n Boer…

Die volksheld Frik du Preez het, vreemd soos dit mag klink, in Kenia rugby gespeel. Ja, die Springbokke het wêreldrugby vir dekades lank oorheers en drie wêreldbekers gewen, maar min mense weet dat hulle ‘n wedstryd in Kenia gespeel het, in Nairobi, teen Oos-Afrika. Dit was in 1961, op pad terug van hulle triomfantelike “Grand Slam” toer deur Brittanje, toe hulle al vier tuisunies op ‘n streep afgeransel het. Daar kon net een wenner wees. Die telbord het op 39-0 gaan vassteek… Frik het dié wedstryd, op 25 Februarie 1961, agsteman gespeel en die spanlys dui aan dat ene H. Kruger van Eldoret sy direkte opponent was – so Afrikaans soos wat jy wil hê! (1) En my buurman op Suiderstrand, Wessel Steyn, gebore Keniaan wat hy is, onthou ook vir Fanie Kruger van Eldoret soos gister.

Maar Kenia laat jou ook dink aan  ‘n donker tydperk in die land se geskiedenis. Die tyd van die opstand en die Mau-Mau en Jomo Kenyatta. Groot getalle Britte het reeds gedurende die Eerste Wêreldoorlog na Kenia gestoom. Die kenmerke van die Britse kolonialiseringsbeleid het op ‘n paar pilare gestaan: eerstens verower jy jou teikenprooi met alle middelle tot jou beskikking, hetsy deur slinkse “diplomasie” of deur jou militêre vermoë.  Dan  verengels jy die plaaslike bevolking en oortuig hulle dat jy eintlik hier is om die land te ontwikkel en hulle te help. Dan laat jy hulle vir jou werk. En dan eksploiteer jy jou nuutverworfde land se natuurlike hulpbronne. Kenia was geskik vir akkerbou. Die wildlewe moes ‘n bloedige prys betaal onder die nuwe heerskappy met sy dodelike wapens. Kenia gee geboorte aan die mite van “die groot wit jagter”, soos wat Robert Ruark beskryf in sy treffferboek, Something of Value. Daar is letterlik geslag onder die skynbaar onuitputlike wildbronne, veral op grootwild soos leeus, olifante, renosters, luiperds en ander. Namate die Britte hulle in die nuwe kolonie ingrawe , word die Keniane  se stamgronde verdring en hul natuurlike weivelde vir enorme koffieplantasies gebruik. Ingevolge die Crown Lands Ordinance Act word hulle as’t ware in “reservate” saamgehok. Hulle voel toenemend soos vreemdelinge in hul eie land. Maar die Keniane is goed genoeg om in The King’s African Rifles te dien – deels as Britse teenvoeter vir die Duitse bedreiging in die aangrensende Duits-beheerde Tanjanika. Die plaaslike verset neem al hoe vinniger toe:  Wie was hierdie uitlanders per slot van rekening, hierdie bleekvelle wat hulle land kom vat het en nou oor hulle regeer?

Daar was ‘n swart nasionalisme in die lug, wat uitdrukking gevind het in die gees van Uhuru: vryheid. Die verpersoonliking van Keniaanse nasionalisme was Jomo Kenyatta, ‘n indrukwekkende figuur, ‘n natuurlike leier, onderwyser, goed opvoed, en met die deurpriemendste oë. Hulle vertel dat hy met ‘n soort magnetisme na jou kon staar, byna soos Adolf Hitler. In sy toesprake bestempel  hy die Britse koloniale beleid as fassisties, en vergelyk die behandeling van swart mense deur Engeland met dié van die Jode in Nazi-Duitsland. Teenoor hom staan die Engelse jingo’s met hulle teenargumente soos: “Ons bring die beskawing na Donker Afrika. Sonder ons administrasie en beheer sal alles ten gronde gaan.” Of: “Ons voed hulle op, bou vir hulle hospitale en skole en skep werk. Buitendien het ons hier te doen met primitiewe mense wat nog geslagsverminking onder hul meisies toepas.” (2)

Die lewe was goed vir die deursneë Engelsman in Kenia. Hulle voer ‘n leefstyl wat goed beskryf kan word deur die woord hedonisties. In teenstelling met ‘n saai middelklas-bestaan in ‘n troostelose Engeland, is jy in Kenia feitlik ‘n feodale grondbaron met ‘n swetterjoel bediendes en ‘n oppasser vir elkeen van jou kinders. Jy word eerbiedig in Swahili as Bwana aangespreek en jou vrou as Memsahib. Die tipiese prentjie is dié van romantiese safari’s met swaarbelaaide pakdraers, imposante herehuise versier met leeuvelle en bokhorings, eindelose tuinpartytjies met jenewer en tonikum, swembaddens, tennisbane, perde en stringe eerbiedige Keniane in kraakvars uniforms om jou te bedien, soos wat jy kan sien in die rolprent White Mischief. Die Keniane aan die ander kant, voel toenemend uitgebuit en misbruik. Hulle ondergrondse weerstandsnetwerk groei stelselmatig, veral onder die Kikoejoe. Hulle verdeel hulself in selle, elk met sy eie leier, wat gewoonlik ‘n eensgesinde hoofman is. Hul strategie berus op die gevestigte tradisie van geloof in die voorvadergeeste. Intimidasie  en groepsdruk is deel van die werwingsproses. In die naam van patriotisme moet stamlede ‘n bloedeed aflê, wat met ‘n rituele offerande gepaard gaan. As jy nie wil saamwerk nie, word jy as verraaier gebrandmerk en is jou lot dikwels die dood. Die Britte noem hierdie opstandelinge die Mau Mau. Vandag ontken kontemporêre Keniane dat daardie term hoegenaamd húl skepping is.

Op L’Agulhas woon een van die laaste oorlewende Engelse “colonials” uit daardie era. Jeannie Machinnon (70), sê rolprente soos White Mischief stel haar landgenote in  ‘n baie swak lig en is heeltemal oordrewe. “Die meeste van ons was ordentlike, hardwerkende mense.” Sy en Jomo Kenyatta se niggie was saam op skool en hulle het “soos kat en hond baklei.” Volgens haar was  Kenyatta ‘n geslepe skurk wat ander mense gebruik het om sy vuilwerk te doen. Sy vertel die Mau Mau het die kombuis-personeel op die plase as mede-samesweerders gebruik. “Wanneer die tafelbediende die aandete voorsit, moes hy die bord vol kokende sop in die landheer se gesig gooi. Dit was die teken dat die wagtende aanvallers moes toeslaan. Hulle het die blankes op die wreedaardigste maniere vermoor, asook mede-Keniane wat nie wou saamwerk nie.” Maar volgens bronne was dit die hoogdrawende, meerderwaardige en patroniserende houding van die Britse heersersklas wat die sweer laat bars. Die opstand breek in 1952 uit. Plase word aangeval en diere vermink. Die eerste setlaar word in 1953 vermoor. Brittanje kondig  ‘n noodtoestand af wat vir agt jaar in swang sou wees. ‘n Leër van 50 000 professionele soldate word ontplooi. Daar word selfs bomwerpers teen die opstandelinge ingespan. Jomo Kenyatta word tot nege jaar hardepad gevonnis, hoewel hy volhou dat hy nie die leier van die Mau Mau is nie. Enigeen wat daarvan verdink word dat hy of sy bande met die Mau Mau het of die bloedeed afgelê het, word na konsentrasiekampe verskuif. Daar word hulle gemartel en in haglike toestande aangehou. Duisende kom om. Uiteindelik word 32 blankes vermoor. Toe die Mau Mau opstand uitbreek, word Jeannie “vir haar eie veiligheid” na Durban verplaas.

Volgens Hazel Kirk, wat uit ‘n vooraanstaande Engelse familie uit Kenia na Suid-Afrika gekom het, is nie ‘n enkele Afrikaner enige leed aangedoen nie. Jeannie Mackinnon onthou die Afrikaner nalentenskap in Kenia goed. “Ek is byvoorbeeld in die NG Kerk in Nairobi gedoop! Daar was ‘n Afrikaner-boer met  die naam Hoffie Retief. Sy familie het van Laingsburg gekom en hy was ‘n groot boer buite Nairobi. John de Villiers was ‘n joernalis vir die East African Standard en The Nation.” Die Keniane betaal  ‘n geweldige prys vir die vermetelheid om hulle teen die magtige Engeland te verset: tussen 15 000 en 20 000 mans, vrouens en kinders sterf aan die hand van die Engelse gewapende magte en die Keniane se eie Mau-Mau vegters.

Kenia bereik oplaas in 1963 sy onafhanklikheid met Jomo Kenyatta as eerste president. Daar is nog wild oor ja, maar hulle getalle krimp steeds onrusbarend weens onbeteuelde bevolkingsaanwas en gepaardgaande industrialisasie wat hele habitatte vernietig. Leeus is so gejag dat hulle byna op die gevaarlys verkeer. Olifante met pragtige ivoortande word al hoe meer van ‘n rariteit. Nairobi het ontaard in ‘n reeks kruipende krotwoonbuurte sonder sanitasie.  Frik du Preez was nog nie weer daar sedert hy die eerste en enigste keer daar agsteman vir die Bokke gespeel het nie…Die lewe gaan voort.

Pierre Massyn
* Pierre Massyn is ‘n oud-joernalis en avonturier. Hy is die skrywer van Springbokrugby-Vasvra.

Bronne:

www.sahistory.org/article/kenyan-timeline

www.history.com/this-day-in-history/kentatta-jailed-formau-mau-uprising

www.wikipedia.org/wiki/Jomo_Kenyatta

Voetnote

1. Die meeste mense onthou Frik as  ‘n slot, maar hy het sy Springbok-debuut as flank gemaak op Avril Malan se 1960/61 toer. Hy het boonop ook die skopwerk behartig en Engeland met een van sy skoppe gekelder!

2. Hierdie gebruik duur tot vandag toe voort. In die naburige Tanzanië het die skrywer ‘n vrou ontmoet wat van haar pa, ‘n hoofman, se kraal gevlug het toe hy haar aan die misbruik wou onderwerp. Ek het selfs in ‘n hut op ‘n uitbeelding afgekom waar die “operasie” in detail uiteengesit word. 

Meer oor:  Kenia  |  Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Hermanus Times Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.