Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe kragaanleg voordelig
’n Kunstenaar-aangepaste foto van hoe die Redstone gekonsentreerdesonkragaanleg by Postmasburg in die Noord-Kaap kan lyk as dit klaar is. Links agter en links voor is die reeds voltooide fotovoltaïese sonkragaanlegte Lesedi en Jasper.

’n VERDERE ekonomiese inspuiting wag op die Noord-Kaap met bouwerk aan die nuwe gekonsentreerde-sonkragaanleg by Postmasburg wat vanjaar begin.

Volgens die ontwikkelaars, die Amerikaanse groep SolarReserve en ACWA Power, gaan die 100 MW-aanleg genoeg krag opwek vir meer as 200 000 huise.

Dit sal die eerste gekonsentreerde-sonkragaanleg in Suid-Afrika wees wat energieberging met gesmelte sout benut. Die aanleg sal elektrisiteit vir 12 uur se lewering kan berg sodat hy dag en nag op aanvraag krag kan lewer.

Die projek, genaamd Red­stone, was een van die suksesvolle bieërs in die derde ronde van die departement van energie se groenkragaankoopprogram. Weens vertragings by Eskom met die koppeling van nuwe hernubare energieprojekte aan sy netwerk, is dit een van talle projekte wat nie onmiddellik met bouwerk sal kan begin nie en daar word nog op die finale finansiële goedkeurings gewag. Die ontwikkelaars is luidens ’n verklaring vol moed dat hulle teen vroeg 2018 sal kan begin krag opwek.

SolarReserve het reeds ’n soortgelyke projek in die VSA gebou wat vloeibare sout as kragbattery benut.

Kevin Smith, uitvoerende hoof van SolarReserve, sê danksy die kragbergingsvermoë kan die aanleg net soos ’n konvensionele steenkool- of kernkragstasie krag op aanvraag voorsien, maar sonder besoedeling of gevaarlike afvalmateriaal. Volgens hom is die prys waarteen Eskom krag van die aanleg koop, die laagste tot dusver van enige gekonsentreerde-sonkragaanleg in Suid-Afrika.

Gekonsentreerde-sonkrag-pryse vir dié ronde was minder as R1,70 per kWh, dus nog heelwat duurder as die pryse waarteen Eskom wind- en sonkrag aankoop – wat in die derde ronde al minder as R1 per kWh is, luidens dokumentasie van die departement van energie.

SolarReserve het die fotovoltaïese sonkragprojekte Lesedi en Jasper van onderskeidelik 75 MW en 96 MW ontwikkel. Die Redstone-projek sal langs dié aanlegte gebou word.

ACWA Power het die Bokpoort-gekonsentreerde-sonkragaanleg van 50 MW naby Groblershoop ontwikkel.

) Ander gekonsentreerde-sonkragaanlegte wat ontwikkel word, is Eskom se eie projek van 100 MW by Upington, die Spaanse groep Abengoa se drie projekte van 250 MW, die Ka­ros­hoek-projek van 100 MW waarin Investec, die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die staat se Openbare Beleggingskorporasie (OBK) belange het, en die Kathu Solar Park van 100 MW waarby Investec, die OBK en die Franse groep GDF Suez betrokke is.

) Ekonomiese voordele vir die Noord-Kaap is:

Finansiering: Suid-Afrikaanse maatskappye sal R2,4 miljard in die projek belê. Plaaslike en internasionale banke sal lenings van R5,6 miljard voorsien.

Belastinginkomste: Meer as R6 miljard se inkomstebelasting kan oor die eerste 20 jaar van die projek tot die staatskas bygedra word.

Bedryfsuitgawes: Meer as R150 miljoen per jaar sal oor die meer as 30 jaar van die projekleeftyd aan salarisse en ander bedryfskoste bestee word, wat grond, versekering en onderhoud insluit.

Werkskepping: Meer as 4 000 regstreekse en nie-regstreekse poste kan in die konstruksiefase geskep word. Tussen 60 en 70 mense sal werk kry om die aanleg te bedryf

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.