Wat as ’n droom begin het om eendag ’n model te word het op Saterdag 16 November ontvou in ’n modefees soos min, waar verskeie ontwerpers se werk deur ’n plaaslike modelskool ten toon gestel is.
Die IDE-modelskool in Kuruman van Nedien Andrews, wat reeds haar stempel in die modewêreld afgedruk het, se modelle het verskeie ontwerpers se werk op die Kuruman-modeskou ten toon gestel.

Die wenners op die Kuruman-modeskou is van links Beauron Julies (wat die titel Mej. Wrenchville 2019 dra), Sasha-Leigh Cole (die beste Showstopper 2019-model en die beste junior model vir 2019), Nedien Andrews (eienaar van die IDE-modelskool en model uit eie reg), Dreshni French (Miss Pre-Teen Northern Cape 2019 en internasionaal Mej. Junior Suid-Afrika se 2019-finalis, wat die titel van Mej. Fotogenies gewen het en die Kuruman-modeskou se topmodel van 2019 is) en René Casper (Mej. Noord-Kaap 2019).
Edward Smit
Die modelle moes ook hul eie ontwerpe vertoon, wat beoordeel is deur Anne-Marie de Bruin van Carletonville, betrokke in die modewêreld, en René Casper, wat as Mej. Noord-Kaap 2019 gekroon is en nou die gesig van IDE is.
“Ek wou nog altyd ’n model word, maar my visie het later so verbreed dat verskeie jong mense nou deel is daarvan en ook van die IDE-modelskool,” sê Andrews.
“Te veel jong mense het geen hoop of ’n visie vir hul lewe nie en ons probeer om dit te verander deur ’n platform te bied waardeur hul potensiaal ontwikkel kan word.”
Andrews het ook haar buiging in die Afrikaanse sepie 7de Laan as model gemaak.
Sy het onlangs ’n tweejaarkontrak met ’n Kaapse modehuis gesluit.
Een van IDE se modelle vlieg volgende jaar oorsee om haar internasionale buiging op die loopplank te maak.