Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gryp idees op jou pad aan

Elizabeth Gilbert het vir my gewag. Rondom haar was verskeie ander wat wou gesels. Rug teen rug.

Sommige het ’n bietjie skuins gelê. Elizabeth was helder. Kleurryk. Betowerend. Sy wou nie oor haar boek, Eat, Pray, Love, gesels nie – wel oor die towerkrag daarvan om skeppend te leef.

Ek het haar van die rak afgehaal, deurgeblaai, na die kasregister gestap en in my motor gelaai.

Soms is ons afsprake met regte mense, ander kere met hul woorde.

Elizabeth se woorde het sinne geword, paragrawe gevorm, betekenis gekry. Die toorkrag van 26 letters is oor oseane en kontinente deur die towerstaf van lees na my gestuur.

Terwyl ek deur Big Magic: Creative Living Beyond Fear gelees het, het Elizabeth se woorde soos dié van ’n geliefde gespreksgenoot kom anker gooi in die strome van vertwyfeling wat soms maar oor elkeen van ons vloei.

Sy het gedeel hoe vrees maar deel van ons almal se waagspronge is – soms verhoed dit dat ons spring.

Vrees het goeie eienskappe; maar moet verkieslik eerder ’n passasier in jou lewensmotor wees as die bestuurder daarvan.

Dit is een van die hoofoorsake waarom ons nie altyd uitvoering aan ons idees gee nie.

Het jy al ooit die ervaring gehad dat iemand anders idees – idees waaraan jy eerste gedink het – tot uitvoering bring?

Volgens Elizabeth is idees maar net wesens wat iemand soek om hulle uit te voer. Voer jy dit nie uit nie, meld die idee haar by iemand anders aan; en as daardie mens dit tot uitvoering bring, moet jy hom of haar nie veroordeel of verkwalik nie – hulle het net gedoen wat jy nie wou of kon nie.

Wees gereed om aksie te neem as die volgende idee oor jou pad kom.

Elizabeth het my laat besef dat dit niks help om derms uit te ryg oor verspeelde kanse en verlore idees nie; eerder om te werk met daardie stemmetjie in die kop wat twyfel fluister, aarseling praat, verskonings voorhou en vrees skreeu.

Daardie stemmetjie moet stilgemaak word. Vergeet van dialoog, redeneer of argumenteer.

Wys vir die stemmetjie om stil te bly, of skreeu kliphard, “shut up!”

En dan?

Dan spring ’n mens in en neem die eerste tree. Of dit die openingswoord van ’n roman, die oopmaak van ’n besigheid of die eerste haal van ’n verfkwas is, doen dit net.

Jy sal die betowering ervaar.

Soms met ’n bloedneus, ander kere met ’n verdwaasde glimlag; maar altyd, ja altyd, met die wonderlike wete dat jy gedoen het wat jy kon om die ideewese lewendig te maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.