“MY kind, my knieë knou my op, en met die Hippo Roller wat julle vir ons gegee het, kan ek weer water gaan haal, want ek het nie meer krag om dit met ’n kruiwa te doen nie.
“Ons is almal baie bly oor die geskenk. Dit gaan ons lewe baie makliker maak. Ons is baie ou mense wat hier bly en met die min waterpunte is dit harde werk om water te kry. Die tenks sal baie help, dankie!”
Dít was die woorde van Sana Sechodi, ’n inwoner van die Seoding-landelike gemeenskap naby Kuruman, nadat AEL Mining Services 2 000 Hippo-waterrollers aan minder bevoorregte huishoudings verskaf het.
Deel van AEL se projek is om aan bejaardes en gestremdes water te verskaf en met die Hippo Roller kan hulle ook die water gemaklik stoor.
Verteenwoordigers van AEL het ook vir die inwoners wat water ontvang het, geleer van netheid, hoe om hande te was en hoe om beskikbare water skoon te hou.
“AEL het Woensdag (17/02) 2 000 Hippo Water Rollers aan die Seoding-gemeenskap oorhandig.
“Ek hoop hierdie projek word deur die Ga-Segonyana-regeringstruktuur goed ontvang en dat ons projek sal help om verligting aan gemeenskappe wat swaarkry, te bring,” het Nic Dreyer, streeksbestuurder van AEL in die Noord-Kaap, gesê.
Die waterrollers is deur AECI, wat die eienaarmaatskappy van AEL Mining Services is, geborg.
Grant Gibbs, die vervaardiger van die Hippo Water Rollers, het ’n demonstrasie gegee oor hoe om die roller te gebruik, te onderhou en te versorg.
Die eerste Hippo Roller is aan die oudste inwoner teenwoordig, Masego Tagane (85), uitgedeel.
Sy was baie bly en het geëerd gevoel.
“Ek sal kinders moet huur om my te help om water te gaan haal, want niemand doen deesdae iets verniet nie,” het sy gesê.
Die groot glimlag het boekdele gespreek en sy was vol grappies en opgewonde oor dié geskenk.