Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jong egpaar verongeluk saam

’n Noord-Kaapse egpaar wat net ses weke getroud was, is Sondagaand (03/02) in ’n motorongeluk op die R31-roete tussen Barkly-Wes en Daniëlskuil dood.

’n Vragmotor was glo ook in die botsing betrokke wat omstreeks 21:30 gebeur het.

Christiaan (26) en Arina van der Merwe (25) is vermoedelik op slag dood.

Hulle is op 15 Desember getroud.

’n Hartseer Johan Fick, Arina se pa, sê hy en haar ma, Elsa, is in skok.

“Ons dogter was hardwerkend en toegewyd. Sy het pas haar meestersgraad in aptekerswese voltooi en sou verder studeer. Ons was so lief vir haar.”

Die Ficks woon in Louis Trichardt.

Johan en Christa van der Merwe, Christiaan se ouers, besit die Bospoort Beskuit-onderneming naby Postmasburg.

Van der Merwe sê dit is nog te onwerklik om te begryp dat hulle dood is.

“Hulle is ses weke gelede getroud. Hulle het mekaar in Potchefstroom op universiteit ontmoet en is ook daar getroud.

“Christiaan was ’n ingenieur wat by ’n myn in Kathu gewerk het.”

Van der Merwe sê sy seun was soos sy vriend.

“Ons kon saam in die veld ry en oor alles gesels. Hy was baie nugter en kon objektiewe menings gee. Sy algemene kennis was verstommend.

“Hy was baie vrolik en kon ’n mens altyd opbeur. Hy was baie gewild onder hul vriende. Hy was die hoofseun van Landboudal in Jacobsdal.”

Sy skoondogter was klein en fyn, maar het ’n ongelooflike dryfkrag gehad, sê Van der Merwe.

“Arina het as apteker by die hospitaal in Postmasburg gewerk en sy was van plan om binnekort vir haar doktorsgraad in te skryf.

“As sy eers haar kop op ’n ding gesit het, sou niks haar stuit nie. Hulle was die naweek in Ermelo vir ’n troue.

“Die kinders het 16:00 Sondag uit Potchefstroom na Postmasburg vertrek.”

Volgens Van der Merwe het die ongeluk omstreeks 21:30 op die R31-roete, sowat 30 km voor die afrit na Daniëlskuil, gebeur.

“Dit is nog baie onduidelik wat gebeur het. Ek weet net ’n vragmotor was betrokke.

“Ons was by die ongelukstoneel, maar kon nie veel uitmaak nie. Ons wag vir die polisie om ons in te lig.

“Die lykskouings moet eers voltooi word voordat troosdiens­reëlings getref kan word,” sê hy.

Christiaan word ook deur sy suster en swaer, Chris-Mari en Handré Strauss, oorleef.

Arina word deur haar ouers, asook haar broer en suster, Johan en Helene Fick, oorleef.

Die polisie het nog nie op ’n versoek om kommentaar reageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.