Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kaapse tiener reik uit na NK-boere

’n Onlangse humanitêre uitreiking deur ’n tienermeisie van Brackenfell het hoop gebring in die harte van vele boere in die droogte-geteisterde Garies in die Noord-Kaap.

Nou beoog Zandri Theron (14) van die Hoërskool Brackenfell om weer so te maak in Februarie.

Op 14 en 15 Desember het Zandri kos en geskenkpakkies vir sowat 57 gesinne in Garies geskenk.

Produkte vir die pakkies is in Desember ingesamel nadat sy ’n pleidooi aan plaaslike gemeenskappe gelewer het om te help.

Die produkte is per vragmotor deur een van die boere na Garies vervoer.

“Die boere en hul gesinne was so verwelkomend en dankbaar vir die hulp wat hul kant toe gekom het. Ons het nie verwag dat die projek so suksesvol sou wees nie,” sê Zandri.

Maar dit was ook ’n emosionele dag vir haar.

“Om die dankbaarheid vir so ’n bietjie hulp in mense se oë te sien, het my diep geraak,” sê sy.

“Ek is ook trots daarop dat ek met die hulp van my gemeenskap ’n verskil kon maak in die gesinne se lewe.”

Die distrik gaan die afgelope sewe jaar al gebuk onder ’n ongekende droogte, wat talle boerderye tot niet laat gaan.

Uit die 255 boere in die distrik is 54 gesinne (123 mense) reeds afhanklik van maandelikse kospakkies, sê Nicolene Visser van die Garies-boerevereniging.

Zandri is weer besig om produkte in te samel vir nog ’n uitreik.

“Die nood was baie groter as wat ons gedink het, en daarom gaan ons terug om nog humanitêre bystand te lewer,” sê sy.

Zandri is ook besig om te onderhandel met Burre Burger, wat ’n nie-winsgewende organisasie vir droogtebystand bedryf, om voer vir die diere te probeer verkry.

Sy beoog om teen 15 Februarie terug te keer Garies toe en benodig die volgende produkte: koffie, suiker, tee, melk, kondensmelk, pasta, olie, konfyt, koekmeelblom, rys, tuna, soja-maalvleis, mieliemeel, margarien, eiers, soetmielies, tamatiepulp en ander nie-bederfbare kos, asook sjampoe, tandepasta, skeermesse, deodorant, handeroom en lekkergoed.– Desirée Rorke

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.