Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kamele stap lang pad vir Bybels

As jy oor die volgende paar weke twee kamele langs die pad deur die Noord- en die Oos-Kaap gewaar, kan jy jou oë maar glo – dit is Jan “Kameel” en ’n groep Noord-Kaapse sendelinge onderweg na Port Elizabeth op ’n geldinsamelingsveldtog vir Bybels.

Dit is nie die eerste keer dat Jan Arends (56), oftewel Jan Kameel soos mense hom ken, so ’n reis aanpak nie. Arends is ’n sendeling van Oranje Oes Sending van Kakamas, ’n bediening wat hom toespits op die fisieke en geestelike behoeftes van trekarbeiders.

Arends en lede van die School of Fire-bediening deurkruis gereeld provinsies om geld vir Bybelverspreiding in te samel.

School of Fire is ’n Noord-Kaapse bediening wat dwelmverslaafdes rehabiliteer en dan oplei om sendingwerk te doen.

Op sy eerste reis in 2010 – van Kakamas tot in Heidelberg, Gauteng – het Arends R4 miljoen vir Bybels ingesamel.

Hy en die ses sendelinge van School of Fire wat nou van Kakamas na Port Elizabeth onderweg is, moes egter vir eers halt roep in Grootdrink in die Gariep-distrik omdat hul voertuig, ’n paneelwa, herstel moet word.

’n Peugeot Partner word ingespan om die kamele se water en voer met ’n waentjie te trek. Die groep sendelinge slaap saans in die veld of in dorpe as kerke hulle inneem.

Sodra die voertuig herstel is, volg hulle die pad verby Prieska, Hanover, Middelburg en Cradock, en daarvandaan na Port Elizabeth. Mense wat wil help, kan water en lusern skenk, of geldelik bydra. Arends sê daar is ook “nood vir ’n werkende voertuig”.

Arends se avonture het in 2010 begin toe Matteus 19:23 ’n saadjie by hom gesaai het. Dit is waar Jesus aan die dissipels sê dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryk mens om in die koninkryk van God te kom.

“Die kameel het vir my ’n simbool van hoop geword, want toe die dissipels ontsteld vra wie dan gered kan word, was sy antwoord: ‘Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.’ ”

Arends het toe sy twee kamele in die Kalahari aangekoop en die reis na Heidelberg aangepak om geld vir Bybelverspreiding in Zimbabwe in te samel. Niemand mag op Aziz en Simon, die twee kameelbulle, sit nie.

“Dit is Jesus se plek daardie,” sê hy.

Die doel van die huidige reis is om geld vir die verspreiding van Tswana-Bybels in te samel, asook om Bybels te versprei in lande waar dit nie geredelik beskikbaar is nie.

Rooies Strauss, ’n evangelis en krokodilboer van die plaas Tanien in die Upington-distrik, is die leier van School of Fire. Hy het onlangs kragte met Arends saamgesnoer en het saam met ’n groep studente van School of Fire die 153 km van Kakamas tot by Grootdrink saam met Arends afgelê.

School of Fire bedryf ook die projek Nuts 4 Bibles, waardeur pekanneutplantasies aangeplant word ten einde die oes te gebruik om Bybels te versprei na lande waar dit moeilik bekombaar is.

School of Fire se jongste projek is in Noord-Korea.

Die geld wat met dié staptog ingesamel word, sal sendelinge help wat “ondergronds” in sommige lande werk, Bybels aan arm Suid-Afrikaners voorsien en help om die Woord aan dwelmverslaafdes te bring, sê Strauss.

Ook krokodille van Strauss se boerdery word ingespan om geld in te samel.

Hulle verkoop van die krokodille en is ook besig om ’n leerlooiery op die been te bring om leerprodukte op die plaas te vervaardig.

“ ’n Krokodil is ’n Christelike dier. Hulle stry nie oor die doop nie, hulle vat jou water toe,” skerts Strauss.

Cheréne Pienaar

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.