Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Koringkriek-poets het talle aan die skater

Daar is min dinge só lelik en wat Suid-Afrikaners só op hol kan jaag en laat gril en skree van die lag soos ’n koringkriek.

’n Video van ’n paar vriende wat tydens ’n jagtog vir een van hul makkers ’n poets met ’n koringkriek bak, het sedert Vrydag 31 Mei sosiale-media-gebruikers aan die krul van die lag.

Dié video is volgens Gert van Wyk van Olifantshoek ’n paar jaar gelede opgeneem toe hy en ’n paar vriende sy niksvermoedende broer, Deon van Wyk, met ’n koringkriek die skrik op die lyf gejaag het.

Die video is op ’n plaas naby Keetmanshoop in Namibië geneem toe hulle daar gaan jag het.

Gert sê sy broer skrik maklik en gril veral vir ’n koringkriek.

Hulle het dié video vir die TV-program Kwêla aangebied en weet nie hoe dit weer op sosiale media beland het nie.

“Ons het gestop om lemonade te drink by die afdraaipad na die plaas waar ons sou gaan jag.

“Van die manne het soos ons gery het koringkrieke op die pad gesoek; hulle het dan summier stilgehou om die koringkrieke op te laai.

“Sommige was reeds doodgery, maar het steeds ’n lift gekry,” vertel Gert.

En dit is toe net hier waar die manewales begin, sê hy.

“Tydens die stop het ek die manne begin afneem. Ek het opgelet hoe een van hulle ’n koringkriek optel en na Deon toe loop.

“In daai stadium het Deon nog pyp en sigarette gerook.

“Sy baadjie se sakke het altyd oopgestaan soos handjies wat bedel.

“Die man het die koringkriek in Deon se linker-baadjiesak gesit.”

Gert lag ondeund en sê: “Ek het die kamera vir my maat gegee en gesê hy moet die kamera net op Deon hou.

“Ek het nader gestap en vir Deon, met die wete dat hy in sy sakke sal voel, vir ’n vuurhoutjie gevra omdat daar kwansuis ’n stukkie biltong in my tand vassit.”

Die volgende oomblik was dit ’n konsternasie toe Deon die grillerige gedrog op sy baadjie gewaar.

Dis net pyp, beker en twak wat trek en sover soos hy laat spaander oor die vlakte, hardloop hy hom skoon uit sy baadjie uit wat nog verbete aan sy kuite probeer klou.

“Hy het sy das ook tydens die honderd meter los gekry, want dié het hom gewurg,” lag Gert.

’n Luidkeelse gelag van die trawante word in die agtergrond gehoor voordat Deon uiteindelik tot verhaal kom en homself weer probeer regtrek.

“Hy het so brom-brom teruggekom en wou nie die baadjie optel nie.

“Hy het hom so geskop totdat iemand die baadjie vir hom opgetel het,” skerts Gert verder oor die voorval.

“Deon het baie ernstig na die persoon gesoek wat die kriek op hom gesit het en daarna het hy die regisseur gesoek omdat dié persoon glo gesien het wie het die koringkriek geplant het.”

Die video is op Kalahari Bulletin se Facebook-blad gedeel.

In daardie stadium was dit nog onduidelik wie die video geneem het.

Lesers het onmiddellik reageer en die video wyd en syd gedeel.

Sommige lesers het ook hul skreeusnaakse ondervindinge met ’n koringkriek gedeel.

Ander het hul medelye met Van Wyk se konsternasie en groot skrik gedeel.

Lario Louw van Keimoes skryf: “Dink jy hy is erg? Jy het nog f****l gesien nie.

“Daai sal nou dìé scoop van die jaar wees. Julle sal ’n vinnige kar moet kry om my kort duskant Kenhardt te loop voorkeer, of ek’s lank voor die bakkie verby Calvinia!

“Daai spietkop by die weegbrug by Klawer sal nie weet wát hom getref het nie!”

Ook Iroleen von Litzenborgh-Page van Windhoek in Namibië het haar storie gedeel van hoe haar oupa net in sy onderbroek oor ’n koringkriek opgeëindig het.

“My oupa het sommer in die ry uit die kar geklim.

“Kar is van die pad af en doodgeruk so langs die pad en hy het so ent agter net in sy onderbroek en sokkies gestaan en hyg na asem.

“Een van die krieke moes op ’n manier op sy hemp gaan sit het by die veekamp en toe ons huis toe ry, gaan sit hy op Oupa se skouer.

“Ek het my in my glory geskrik daai dag, want dit was een m**rse gegil, die deur wat oopgeruk is en oupa in die stof en klere wat trek.”

Christine Marais het die video gedeel en geskryf: “Daai is ’n prehistoriese monster, ek sê julle. Ek neem daai man glad nie kwalik nie.”

Familie van die Van Wyk-broers het gou die video herken en die koerant gekontak.

Marike Heyns sê hulle het weer vreeslik lekker gelag toe hulle die video op die koerant se Facebook-blad sien.

Marna Coetzee, nog ’n familielid, sê hulle terg haar oom al jare so.

Sy is dit eens dat die video goeie terapie vir die siel was en is bly dat mense lekker kon lag en vir ’n oomblik van hul sorge kon vergeet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.