Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kustier biekie kalaharigeit . . .

“Ek stier vir jou biekie kaalharigeit . . .”

Só begin een van die skryfstukke, “Kaalhariegeit” in Kudu Smit se boek, Mnr. Kudu vannie Kalahari se vyfuur-innie-oggendskryfsels, wat onlangs verskyn het.

Die boek is deur die ATKV-tak Kathu uitgegee ter viering van Kudu se 30 jaar as onderwyser aan die Laerskool Kathu, asook ter viering van die tak se 20ste bestaansjaar.

“Hy het nooit die idee gehad om ’n boek uit te gee nie, maar ons het besluit om die boek as ’n gemeenskapsprojek uit te gee,” vertel die takvoorsitter, Anna-Mart Loots. “Kudu skryf elke oggend om 05:00 ’n inspirerende stuk op sy Facebook-blad en daar raak hy heelwat wyshede kwyt.”

Gesels jy met Kudu kom jy gou agter hoe dik die woestynsand saam met sy bloed in sy are loop.

Dit begin in die Namib waar Kudu in die Karasberg tussen Karasburg en Keetmanshoop grootgeword het. Nadat hy sy laerskoolloopbaan in Keetmanshoop voltooi het, is hy Kakamas toe waar hy aan die Hoërskool Martin Oosthuizen matrikuleer het.

Ná sy onderwysstudie aan die destydse Windhoek-onderwyskollege het hy van 1985 tot 1988 aan die Laerskool Wilhelm Nortier in Grootfontein skoolgehou.

Van hier het hy geskuif na ’n ander woestyn, dié keer die Kalahari waar hy sedert 1989 aan die Laerskool Kathu Afrikaans­onderwyser is.

Kudu sonder twee hoogtepunte in sy lang loopbaan uit. Die een is sy verskyning op die televisieprogram Kwêla in 2017 toe ’n reeks gemaak is oor onderwysers wat kinders inspireer­ en op buitengewone of unieke maniere aanspoor tot nuwe hoogtes.

“Mnr. Kudu is nie net ’n grapjas nie en leer ons nie net van Afrikaans nie, hy leer ons van die lewe en hoe om respek vir ander te hê.”

Só het een van sy leerlinge, Jessica da Silva, destyds van hom gesê.

Die ander hoogtepunt is die boek, waarvan meer as 100 eksemplare reeds verkoop is sedert die bekendstelling sowat tien dae gelede.

Hieroor het Kudu op sy Facebook-blad geskryf:

“Die kudubok is so opgewonde soose

keent watte sak niekerbols opgetel het!!

homse goete eersdaags in boekvorm

Dankie Hettie vannie ATKV

Jy gee drome vlerke!!!

Tot virre outoppie

mette dikpens en kieriebeentjies”

Die boek is vir hom ook ’n manier om terug te gee aan die gemeenskap.

“Dit doen my hart goed om mense te inspireer,” sê hy.

Kudu se lewensmotto is om te inspireer met humor – daardie humor so eie aan Namibiërs en Noord-Kapenaars.

“Ek is maar tegnologies gestrem, maar so in 2017 kon ek darem vir my ’n Facebook-blad aan die gang kry. Nou skryf ek elke oggend om 05:00 iets op die blad in egte Kalahari-taal,” vertel hy.

“Onnerie kameeldoringboom

issie lug vars

en hoor ekkie liefdeslied vannie

natuur” (uit “Kaalhariegeit”)

’n Afrikaans-onderwyser lees seker baie boeke?

Nee, Kudu lees die graagste die plasings van medeskrywers op Facebook, maar toe hy jonger was, was Dalene Matthee se Fiela se kind en Kringe in ’n bos onder dié wat hy verslind het.

Hoewel Kudu nog net so lief vir kinders en vir die onderwys is as toe hy begin het, begin hy nou aan aftrede dink.

En hy wil nog ’n keer deur die Namib gaan toer.

Só skryf hy in die boek oor sy woestynliefde:

“onnere boom

wil ek droom

vanne kliphuisie gebou

waarie aardsheidgeit my omvou

Sandduinland

Hartland

in myse harsings

in myse senings”

  • Kudu is die afgelope 24 jaar met Bea getroud wat hy by die plaaslike swembad ontmoet het – “dit was love at first sight!” – en hulle het twee kinders en vier kleinkinders. Besoek Kudu se Facebook-blad, Kudu Skryf, om meer van sy waarhede, naarhede en inspirasie-stukke te lees.

By my funeral gat daar

niks va kos en koffie

weesie

Jy’t mos gekom om te tjank

nie te vreetie!

As jy mos wil partie

ou smartie

gaat hotel toe!

Pak jou aardse koffertjie vol herinneringe van sielskosgoete

Sodat as jy aanie einde

met die uitpakslag

Nie aardse dinge het om te wys nie,

maar wonnerlike stories het om te vertel!

Voordat jy hierdie aarde verlaat

sorg

dat jou hart se padkoskamer

volgepak is

van die goedgeit en mooigeit

van hierdie aarde

– Uit: Mnr. Kudu vannie Kalahari se vyfuur-innie­oggendskryfsels

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.