Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Leër Oranjerivier ’n krisis

Die Oranjerivier, die land se langste rivier en ’n ekonomiese hoofaar, staan nou botstil – en ’n ramp is honderdduisende mense se voorland.

Met duisende hektaar besproeiingslande rondom die rivier, wat ook onder die droogte deurloop, word ernstige vrae oor die bestuur van die land se grootste waterbron gevra.

Prof. Anthony Turton, ’n water­spesialis verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, sê dit is ’n skande dat die departement nie beheer oor onwettige waterverbruik het nie.

Tot 200 spilpunte het glo die afgelope vyf jaar in die Aliwal-Noord-omgewing langs die rivier opgeskiet.

Hy sê dit is ’n skande dat die departement miljoene rand aan die bestuur hiervan bestee het, dat niks daarvan gekom het nie en dat “enigiemand ’n Google Earth-soektog kan doen en sien waar die spilpunte is”.

Volgens hom is die departement geensins daartoe in staat om aan een van sy kernfunksies, die regulering van waterverbruik, te voldoen nie.

Die Oranjerivier is volgens hom in ’n reuse-krisis.

“ ’n Onderdeel van die rivier is die Vaal, en die Vaalrivier is in die grootste krisis ooit – die krisis van rioolvuil. Altesaam 45% van Suid-Afrika se bevolking en 65% van die land se ekonomie is van die Oranje- en Vaalrivier afhanklik.

“Die kerndoel van die departement is nie om te reageer wanneer die droogte voorkom nie, maar om vir die volgende droogte voor te berei voordat dit gebeur.”

Omdat die land geneig is tot droogte, meen hy hulle moet dit as ’n normale verskynsel bestuur.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie en menslike nedersettings, sê droogte word nie in ag geneem wanneer iemand vir ’n spilpunt aansoek doen nie, omdat die droogte “ ’n tydelike verskynsel” is.

Iemand wat ’n spilpunt wil oprig, moet vir ’n permit aansoek doen.

Dieselfde waterbeperkings wat in September 2016 ingestel is, geld steeds.

Jakkie van Zyl, voorsitter van die Maletswai-sakekamer, sê die Oranje­rivier vloei nie omdat die gebied nie in die opvangsgebied wintersneeu gekry het nie, en ook nie betyds die normale reënkwota nie.

Aliwal-Noord sukkel die afgelope paar maande met ’n watertekort. Die duisende gevangenes van die Goedemoed-gevangenis word ook geraak.

“Kraairivier staan ook en bring nie water dorp toe nie. Lesotho het ook nie reën en sneeu gehad nie.”

Wanneer die Katsedam se watervlak minder as 40% is, word water nie uitgelaat om in die laat hulle nie water uit wat afloop in die Oranjerivier af te loop nie. Dié dam is glo net 12% vol.

“As daar ’n groot dam bokant die dorp was, sou daar geen van dié probleme gewees het nie,” sê Van Zyl.

Die destydse departement van waterwese en bosbou het reeds meer as 20 jaar gelede aanbeveel dat ’n dam gebou moet word. Die naam van die dam, soos deur die departement van waterwese en sanitasie gebruik, is die Verbeeldingskraaldam.

Penne is volgens Van Zyl reeds jare gelede ingeslaan om die gebied af te baken, maar daarvan het niks gekom nie. Ratau het nie reageer op die vraag oor hoe ver die planne vir dié dam is nie.

Intussen praat die sakekamer deurlopend met die distrik- en plaaslike munisipaliteite oor die oprig van kleiner opgaardamme op die wal van die rivier.

“In dié stadium red die bronne se water ons deur vir enkele ure die stelsel te voed. Dit is baie karig, aangesien die aanvraag die voor­siening baie ver oorskry.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.