SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Mesdood ‘is almal se skuld’

“Sonder om dramaties te klink, dink ek feitlik alle volwasse Suid-Afrikaners moet skuld vir hierdie kind se dood aanvaar.

“Watter voorbeeld stel ons vir die jeug? Hoe tree ons op ons paaie, in lang rye in die bank, of in winkels op? Wanneer alles by die huis nie vlot verloop nie, of tydens stakings?”

Só sê prof. Corene de Wet, navorsingsgenoot verbonde aan die Suid-kampus van die Universiteit van die Vrystaat, ná die moord op Ranishia Athleen van Wyk (14) in die hoof se kantoor by die Rosendal Interme­diêre Skool in Upington.

Sy is na bewering Woensdagoggend (20/11) deur ’n 16-jarige meisie met ’n mes doodgesteek.

Die twee het glo die vorige dag stry gekry en het Woensdag aan die begin van die skooldag in die kantoor gewag waar die hoof met hulle wou praat.

Ranishia, oftewel Poena, soos sy bekend was, is glo doodgesteek voordat die hoof opgedaag het.

Sy is een keer in die bors gesteek en is op pad na die hospitaal dood.

Die meisies is albei gr. 8-leerlinge aan dié skool.

De Wet sê die voorval spreek van die algehele verval van posi­tiewe waardes in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Volgens haar word ongedissiplineerde optrede by implikasie goedgekeur.

“Die fout vir die meisie se optrede moet op alle vlakke van die samelewing gesoek word,” sê De Wet.

In Suid-Afrika is geweld – eerder as onderhandeling – die norm. Wetsoortreders dra selde die gevolge van hul dade.

“Daar is ’n algehele verval van dissipline in skole weens die oorbeklemtoning van menseregte. Kinders kom letterlik en figuurlik ‘weg met moord’ – die vermeende oortreder word dan toegelaat om weer die skoolterrein te betree en eksamen te skryf.”

De Wet sê ouers is nie by die dissiplinering van hul kinders betrokke nie en stel die verkeerde voorbeelde deur self gewelddadig op te tree.

“Wanneer laas het ouers saam met hul kinders om ’n tafel gesit en kuier? Waarom steek ’n 16-jarige meisie ’n klasmaat dood?”

De Wet skryf dit toe aan blootstelling aan bendegeweld, ’n gebrek aan positiewe lewenswaardes en ’n gebrek aan dissipline by die skool en huis, asook aan die onvermoë van kinders om probleme uit te praat.

“Kinders leer nie om hul woede te beheer nie.”

De Wet sê wetsoortreders moet die gevolge van hul dade dra.

Kinders moet die vrymoedigheid hê om met ’n volwassene te praat, hetsy ’n berader, onderwyser of ouer.

Hoekom?

Lelani van Wyk, Ranishia se tante, sê hulle het geen idee wat tot die voorval aanleiding gegee het nie.

“Ons weet nie hoekom dit gebeur het nie. Ons soek ook steeds antwoorde.”

Sy sê hulle hoop om binnekort met van Ranishia se vriende te praat om meer lig op die voorval te werp.

#Boeliesmustfall

Esmarelda McKay, ’n gemeenskapsaktivis, sê die tyd vir praat is verby. Daadwerklike optrede is nodig om boelies vas te vat en veiligheid by skole te verbeter.

“Dit moet duidelik gestel word dat sulke gedrag onaanvaarbaar is.”

Volgens haar is daar ook ’n leemte in gemeenskappe en ’n gebrek aan rolmodelle waarna kinders kan opkyk.

“Vroeër jare was skoonheidskompetisies ’n groot gebeurtenis in veral klein gemeenskappe, maar dit gebeur glad nie meer nie. Dié leemtes behoort gevul te word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.