Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
NK-kelder spog met beste wyn

In sy beste vertoning nog in enige wynkompetisie het Orange River Cellars van die Noord-Kaap die Pietman Hugo-trofee vir die toppresterende kelder op vanjaar se Suid-Afrikaanse Jongwynskou gewen.

Luidens ’n verklaring het dié Noord-Kaapse wynprodusent vier Suid-Afrikaanse Kampioentrofeë gewen – vir die SA kampioen sauvignon blanc, SA Kampioen ander wit kultivar (Colombard), SA kampioen wit versnit en SA kampioen dessertwyn (Hanepoot Jerepiko).

Die dessertwyn is deur die Groblershoop-kelder produseer, een van Orange River Cellars se vyf produksie-eenhede, terwyl die ander drie wyne by die Keimoes-kelder gemaak is.

Vanjaar se Jongwynskou het 1 680 inskrywings van kelders oor die land heen getrek.

Koos Visser, bemarkingsbestuurder van Orange River Cellars, sê vanjaar se prestasie op die skou het alle verwagtinge oortref.

“As die land se oudste wynskou wat al sedert 1833 bestaan, was hierdie kompetisie nog altyd ’n belangrike maatstaf vir Orange River Cellars om ons wyne met dié van ons eweknieë in die Wes-Kaap te vergelyk,” sê Visser.

“Ons was bevoorreg om in die verlede onder die nasionale trofeewenners te wees, hoofsaaklik met ons internasionaal bekende gefortifiseerde dessertwyne.”

Hy is baie ingenome met die sukses van die maatskappy en sê die wen van drie nasionale trofeë “is ongekend in die geskiedenis van ons wynkelder”.

Een van die nasionale trofeë wat ongetwyfeld ’n paar oë sal laat rek, is die een vir beste sauvignon blanc, “ ’n druifsoort wat so weinig met die Noord-Kaap vereenselwig word as pinot noir met Egipte”.

Tog was sauvignon blanc een van die grootste wyn-afdelings wat op vanjaar se skou beoordeel is.

Rianco van Rooyen, wynmaker by Orange River Cellars se Keimoes-kelder waar die wen-sauvignon blanc gemaak is, sê die druiwe groei op die vloedvlakte van die Oranjerivier in die Skanskop-gebied.

“Die grond is diep en alluviaal, die dae warm tot baie warm en die naaste koel seebries is omtrent 500 km weg,” sê Van Rooyen.

“Dié faktore word alles tradisioneel beskou as nie bevorderlik vir die maak van sauvignon blanc – wat nog te sê die kampioen sauvignon blanc.”

Van Rooyen sê egter dat noukeurige gismoerbestuur, gisting en veroudering van ’n gedeelte van die wyn in tweedevul-eikehout­vate en baie aandag in die kelder tot ’n sauvignon blanc gelei het wat ’n verskeidenheid vrug-, blom- en mineraalkarakters beliggaam.

Visser sê Orange River Cellars se belegging in ’n span wingerdboukundiges oor die afgelope dekade speel ’n groot rol in die algehele gehalte van die wyne wat van die streek se wingerde gemaak word.

“Dié wingerdboukundiges werk saam met ons produsente om bestaande wingerde te bestuur, nuwe lappies terroir te identifiseer en te verseker dat die wynmakers die beste moontlike druiwe ontvang om mee te werk.

“Voeg hierby ’n span toegewyde en vaardige mense in die kelders, en ons is in ’n baie sterk posisie om te bou op die reeds belangrike rol wat Orange River Cellars speel om gehalte­wyne te bied wat verwagtings van hul pryspunte oortref,” sê Visser.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.