Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
NK wil slaagsyfer verbeter

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement hoop om vanjaar ’n slaagsyfer van 80% in die matriekeindeksamen te behaal.

Indien dit gebeur, sal dit ’n “reuse-verbetering” van 6,7 % van die 2018-slaagsyfer van 73,3% wees. In 2017 was die slaag­syfer 75,6%.

Mac Jack, LUR vir onderwys, het Maandag (14/10) gesê hulle het verskeie ingrypings onder leiding van dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, gemaak om die syfer te verbeter.

Altesaam 11 512 matrieks in die Noord-Kaap is vir die nasionale seniorsertifikaat-eksamen ingeskryf, 645 minder as verlede jaar.

Die uitslae word op 7 Januarie 2020 deur die minister van onderwys bekend gemaak.

Die provinsie het in 2018 die sewende plek op die lys van provinsies behaal. Die Noord-Kaap was etlike jare gelede nommer een in die land.

“Die uitvoerende raadslede het elkeen ’n skool of skole in die provinsie ‘aangeneem’ wat ’n slaag­syfer van minder as 50% gehad het. Elkeen moes die betrokke skole besoek en die leerlinge en onderwysers aanspoor om te verbeter,” het Jack gesê.

Hulle het byvoorbeeld by die Hoërskool Monwabisi in De Aar, wat in vorige jare goed presteer het, ’n heeltydse onderwyser in sakestudie aangestel.

“Ons het dadelik die verbetering gesien en hoop die skool behaal ’n slaagsyfer van 85% in dié vak.

“Uiteraard hang dit ook van leierskap by die skole af. Ons het skoolhoofde betrek en bemoedig om leiding aan leerlinge en onderwysers te gee,” het Jack gesê.

“Maatskaplike probleme en swak dissipline gee ook aanleiding tot swak slaagsyfers. Ons moedig ouers aan om verantwoordelikheid vir hul kinders te neem. Die swak slaagsyfer in wiskunde en wetenskap is ook ’n kwelpunt, en ons glo ons ingryping gaan ’n verbetering teweegbring.”

Die departement het ook vakansieskole, naweekklasse, verpligte studietyd en ander maatreëls ingestel.

“Die laaste taak voor die begin van die eksamen was om intensiewe hersiening te doen om die oorblywende kwelpunte uit die weg te ruim. Amptenare van die hoofkantoor en distrikskantore het dié oorsig gedoen.”

Intussen is die 150 sentrums waar die antwoordstelle gemerk sal word, geoudit en personeel is aangestel. Altesaam 931 mense sal die merkwerk doen.

Volgens Jack word alles gedoen om ongerymdhede in die eksamen te verhoed. Geen selfone of polshor­losies sal in die eksamenlokale toegelaat word nie.

“Maatreëls is ook in plek om gedrukte eksamenvraestelle na te speur.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.