Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Pan bly ‘oop vir sake’

Die Noord-Kaap het wyd baatgevind by die ontwikkeling van Hakskeenpan as die renbaan waarop Andy Green met sy supersoniese motor sou probeer om ’n nuwe landspoedrekord van 1 000 mpu (1 600 km/h) te behaal.

Die Noord-Kaapse regering sê al is die Bloodhound-projek weens ’n geldtekort van die baan, is Hakskeenpan “steeds oop vir sake”.

Die Britse projek is in samewerking met die Noord-Kaapse regering ontwikkel.

Die onvermoë om beleggings te werf het die maatskappy wat die projek finansier onder administrasie laat beland. Volgens die admi­nistrateur van die projek benodig hulle £25 miljoen om die projek te voltooi.

Zandisile Luphahla, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling, finansies en toerisme, sê die provinsie het by die projek baatgevind.

“Hakskeenpan is as ’n buitelug-gerief ontwikkel wat tot 5 000 mense kan huisves.

“Ons sal geleenthede in samewerking met die plaaslike Dawid Kruiper-munisipaliteit bewerkstellig.

“Die beoogde verdere ontwikkeling sluit watertoevoer en sanitasiegeriewe in. Ons kan ook spesifieke toerusting wat by geleenthede benodig word, soontoe vervoer.”

Die departement sal ook klein­medium-sakeondernemings wat geleenthede wil aanbied, met vaardigheidsontwikkeling ondersteun.

Luphahla sê die voertuig is nie te koop nie omdat dit geheime militêre tegnologie bevat.

Die provinsiale regering het ook geen bates of geld in die Bloodhound-projek belê nie.

“Die provinsiale regering is dankbaar dat die Mier-gebied vir die rekordpoging gekies is.

“Dit het die bewustheid van die Kalahari-rooiduinroete, die Kalahari, die Mier-gebied en die Noord-Kaap as ’n bestemming vir ekstreme buitelug­sportsoorte verhoog,” meen Luphahla.

Die omgewingsimpak­studie wat die regering gedoen het, het R1 miljoen beloop, en dieselfde bedrag is aan die bou van verblyfgeriewe bestee.

“Ons gaan nog R1,8 miljoen bestee om watertoevoer na die pan en sanitasiegeriewe in Rietfontein te verbeter.

“Die verbetering van die Riet­fontein-aanleg sal die Mier-gebied bevoordeel omdat die bestaande aanleg sy maksimum kapasiteit bereik en ontwikkeling beperk het.”

Die Bloodhound-projek is ook geskep om die aanbied van opwindende geleenthede in die Mier-gebied te stimuleer.

“Dit is betreurenswaardig dat die projek tot ’n einde gekom het, maar die projek het ons baie gebaat.

“Ons kan nou in die toekoms soort­gelyke geleenthede aanbied, soos motorfietswedrenne om die Guinness-rekordboek te haal, die Kalahari Speedweek, konserte en geleenthede waartydens mense met klein vliegtuie bymekaar kan kom.

“Ons boodskap is duidelik: Hakskeenpan is oop vir sake.”

Charné Kemp

Hakskeenpan is as ’n buitelug-gerief ontwikkel wat tot

5 000 mense kan huisves.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.