Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sakekern ’n misdaadkern

Inwoners van Kuruman sit met hul hande in hul hare oor misdaad wat daagliks in die sakekern toeneem en wend hulle nou na die opstel en die oorhandiging van ’n griefskrif om die probleem op te los.

Michael Slabbert, eienaar van die Rhino- gewapende reaksie en sekuriteitsmaatskappy, sê in net meer as ’n week het meer as 2 000 inwoners die petisie onderteken.

Hiermee doen hulle ’n beroep op die polisie in Kuruman om meer sigbaar te wees en seker te maak dat booswigte wat in hegtenis geneem word, in die hof verskyn en nie net weer vrygelaat word nie. Slabbert sê in dié griefskrif doen hulle ook ’n beroep op die hof in Kuruman om diegene wat skuldig bevind word, gepaste swaar strawwe op te lê.

In een van die nuutste voorvalle is Gerhardt Nieuwoudt op Woensdag 30 Oktober helder oordag voor ’n sakeonderneming in Hoofstraat deur twee booswigte aangeval. Die een het hom om die nek gegryp en hulle het hom op die grond neergegooi. (Sien die video op Kalahari Bulletin se Facebook-blad.)

In nog ’n voorval is Gerhard Smit op Saterdag 26 Oktober voor OK en Midas deur vier mans aangeval. Hy sê die aanvallers wou sy selfoon gryp, maar toe hulle hom op die grond neergooi en op sy rug spring, het hy die selfoon tot binne in een van die winkels gegooi. Hy het in die voorval sy skouer en enkel beseer.

Lede van die buurtwag was vinnig op die toneel.

Smit sê hy het dit by die polisiekantoor gaan aanmeld, maar daar was net een polisiebeampte wat verklarings kon afneem.

“Roof en selfs gewapende roof is ’n groot probleem in Kuruman. Die polisie is nie sigbaar genoeg nie en daarom word die probleem net groter,” meen hy.

Hy sê dit is ook nie die eerste keer dat hy in Kuruman se sakekern aangeval is nie. Die vorige keer was in 2018.

Slabbert stem saam met Smit dat die gebrek aan polisiesigbaarheid ’n kwessie is. Volgens hom sê inwoners ook die polisie is nie behulpsaam genoeg nie.

Hy sê dit is nie vreemd dat sy sekuriteitsmaatskappy daagliks na ten minste vyf voorvalle ontbied word waarin inwoners in die sakekern in gewapende rooftogte van hul handsakke, beursies, selfone en ander besittings beroof word nie.

Inbrake by huise neem ook toe en hulle kan nie met die aanbring van alarms en ander veiligheidstoerusting voor bly nie.

Dit het ook onder Kalahari Bulletin se aandag gekom dat baie inwoners glad nie veilig voel wanneer hulle sake by die onderskeie banke in die dorp doen nie.

Ounooi Fourie sê haar 76-jarige ma se beursie is reg voor Absa gegryp.

Die aanvallers het al die geld gevat, maar haar selfoon vir haar teruggee omdat dit “te oud” is.

Slabbert sê die hoë misdaadsyfer loop hand-aan-hand met die algehele agteruitgang van Kuruman.

Drankmisbruik in die openbaar is algemeen en dwelms en onwettige immigrante is ook aan die orde van die dag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.