Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Uitspraak nog ’n deurbraak vir buffelboere

Die bekende Bloemfonteinse sakeman en wildboer Jaco Troskie en sy maatskappy Unyati het ’n slag vir buffeleienaars landwyd geslaan toe hy met ’n dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof geslaag het.

Dit is die vierde agtereenvolgende klinkende oorwinning wat hy die afgelope paar maande in die hof teen staats­departemente behaal het nadat sy Unyati-wildreservaat by Warrenton sedert laat in 2014 onder kwarantyn geplaas is en hy nie wild kon verkoop of van die reservaat kon verskuif nie.

Dit het gebeur nadat ’n buffelbul wat hy in 2011 uit ’n staatsreservaat op ’n veiling gekoop het en deur staats­veeartse as vry van tuberkulose (TB) verklaar is, wel TB gehad het. Die bul het boonop in 2014 gevrek toe hulle besig was om hom weer te toets.

Vandeesweek het die nasionale direkteur van dieregesondheid, dr. Mpho Maja, bloedneus gekry toe regter Vivian Tlhapi in Pretoria die omstrede veterinêre prosedurele kennisgewing (VPN) wat Maja in Maart vanjaar eensydig uitgereik het, oor die beheer van dieresiektes, soos tuberkulose (TB), met koste voorlopig tersyde gestel het.

Luidens regter Tlhapi se bevel moet die toepassing van die VPN gestaak word, hangende voorleggings wat Troskie aan die minister van landbou, bosbou en visserye gaan maak sodat ’n aanvaarbare voorstel vir ’n nuwe regulasie in samewerking met die boere, veeartse en die staat opgestel kan word.

Regter Tlhapi het die VPN ook as ’n onwettige dokument verklaar omdat dit nie deur die minister goedgekeur is nie.

Intussen sal die vorige regulasie vir die beheer van dieresiektes geld.

Adv. Albert Murphy, SC, het namens Troskie en Unyati betoog dat die helfte van die land se buffelbevolking ingevolge die departement se oorsensitiewe VPN positief vir TB sou toets. Die bepalings van die VPN is onwetenskaplik en ondeurdag. Vergelykende toetse wat vals reaksies in die toetse sou uitskakel, is nie meer in ag geneem nie.

Vroeër vandeesmaand is die kwarantyn wat in 2014 en 2017 op Unyati ingestel is, in die Noord-Kaapse hooggeregshof tersyde gestel en as ongeldig en onafdwingbaar verklaar en ook bevind dat Unyati sedert einde 2015 TB-vry is.

Murphy het in opdrag van dr. Trudie Prinsloo van Walley en Van Derlith-prokureurs opgetree.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.