Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vroue in blou vir harde werk beloon

Twee Noord-Kaapse vroue in blou is op 26 Januarie by die polisie se nasionale prysuitdeling in Port Elizabeth vir uitstekende diens beloon.

Min misdadigers sal vir die fikse lt.kol. Marli Strydom, die eenheidsbevelvoerder van die gesinsgeweld- en seksuele misdaad-eenheid in Galeshewe, kan weghardloop.

Sy het ’n oorkonde as die sportvrou van die jaar verwerf.

Strydom is ’n geesdriftige sportvrou wat aan verskeie sportsoorte deelneem.

As deel van die Noord-Kaapse polisiebergfietsryspan het sy al twee goue en twee silwermedaljes by verskillende byeenkomste en ’n silwermedalje in haar ouderdomskategorie gewen.

Sy is ’n kranige tennisspeler wat as lid van die polisie se nasionale tennisspan die vierde plek in die dubbelspel en sesde plek in die enkelspel in die polisieliga verower het.

Strydom het goue medaljes by die Noord-Kaapse polisie se funksionele fiksheidsbyeenkoms verower. Sy het ’n goue medalje in haar ouderdomskategorie gewen en was ’n lid van die vroue-aflosspan wat die tweede plek behaal het.

Sy is verkies tot die nasionale funksionele fiksheidspan. Boonop is sy ’n sweminstrukteur wat swemlesse aan kinders in Roodepan en Barkly-Wes gee en hulle van waterveiligheid leer

Haar span by die kindergeweldeenheid is gedissiplineerd, toegewy en professioneel.

Sy is ’n goeie rolmodel vir lede en veral vroue om aan sport deel te neem en te presteer.

  • Lt.kol Michelle Ford, bevelvoerder van die Carnavon-polisiekantoor, het stof in die oë van manlike en ander vroulike bevelvoerders geskop toe sy die oorkonde vir die polisiekantoor van die jaar omhoog gehou het.

Ford vertel dit is vir haar belangrik om die lede onder haar bevel te ken om te verstaan waarom hulle op ’n sekere manier optree.

Sy sê die uitdagings wat lede in hul privaatlewe ervaar, sal ’n invloed op hul werkslewe hê.

Dit is ook vir haar belangrik om ’n oopdeurbeleid te hê en lede vir prestasies te prys.

Ford het eerstehandse ondervinding dat deursettingsvermoë beloon word.

Sy vertel van ’n geval van verkragting en poging tot moord, toe sy nog die stasiebevelvoerder by Kanoneiland was, waarvoor daar oënskynlik geen leidrade was nie.

Die slagoffer was ’n verstandelik gestremde vrou, wie se keel amper afgesny is ná die verkragting.

Sy kon nie die verdagte beskryf nie.

“Ons het dag en nag gewerk, mense besoek, leidrade gesoek en op die einde ’n verdagte in hegtenis geneem wat vervolg is,” sê sy.

Ford sê sy is gaande oor haar werk as bevelvoerder, hoewel dit nie altyd maklik is nie.

As ’n vrouebevelvoerder met talle mans onder haar bevel, sê sy dit het sy uitdagings en dat die regte aanslag belangrik is.

“Ken jou verantwoordelikheidsgebied en bly by jou standpunt,” beveel sy aan.

Sy glo sy en haar ondergeskiktes het ’n goeie werksverhouding.

“As ’n mens sukses wil hê, moet jy saamwerk. Ons kan uitdagings saam aanpak en saam sukses bereik,” sê sy.

“Hierdie eerbewys gaan nie oor bestuur of die stasiebevelvoerder nie, maar ook oor die junior lede wat hulle werk goed doen en bestuur ondersteun.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.