Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wapenwet ’n kruitvat

Die regering se uiters gebrekkige toepassing van sy vuurwapenwetgewing en ondoeltreffende rekordhouding van wapens is ’n kruitvat wat wag op ’n vonk en aandag verg.

Tot die frustrasie van wapeneienaars, versuim die owerheid al 13 jare – sedert die instelling van die nuwe Vuurwapenwet in 2006 – om probleme rondom die wet op te los.

Die ongelukkige waarheid is dat aanspreeklike polisiebeamptes steeds nie weet hoe om die wet vir die hernuwing van wapenlisensies of die hantering van nuwe lisensieaansoeke toe te pas nie. Rekenaarstelsels is steeds onvoldoende, vakante poste ná jare steeds nie gevul nie en steeds word met lisensie-aansoeke gesloer en foute gemaak.

Die krisissituasie het gesneeubal tot ’n chaos en bring agterstande mee wat moeilik ingehaal sal word.

Dat die owerheid onkapabel is om die land se wapenregister by te werk, bring talle ander probleme mee. Die ironie is dat Suid-Afrikaners wat die wet wíl nakom, al hoe meer sukkel om lisensies te hernu of te bekom.

Hangende hofsake oor laataansoeke en admini­stratiewe struikelblokke vererger die onsekerheid oor die wettigheid van derduisende wapens in Suid-Afrikaners se besit.

Die mislukte stelsel en voortslepende onsekerheid maak die deur wawyd oop vir korruptes en misdadigers wat die kans benut om ’n gaping te neem. Wapens wat deur die polisie vernietig of bewaar moes word, het reeds in die hande van bendes en misdadigers beland. Grootskeepse bedrog met die in- en uitvoer van wapens is ook al weens die skuiwergate gepleeg.

Onvoldoende personeel en hulpbronne maak dit ook moeilik vir polisiebeamptes in die vuur­wapen­­afdeling wat hul werk behoorlik doen. Dit takel hul moraal af.

Pres. Cyril Ramaphosa en die minister van polisie, Bheki Cele (of sy opvolger), móét ag slaan op die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging se pleidooi om nou in te gryp.

Die regering kan nie langer soos ’n volstruis sy kop in die grond druk en die krisis ontken nie. Hy kan ook nie meer gesprekke met vuurwapen-, jag-, sportskiet- of versamelaarsorganisasies ontwyk nie, soos wat hy in die laaste jare gedoen het.

Soos sake nou staan, is die Wapenwet teenproduktief, terwyl dit juis behoorlike wapenbeheer in die stryd teen misdaad moet verseker. Die wetsversuim en agterstallige wapenregister laat wetsgehoorsame wapeneienaars en lisensieaansoekers in die war én in die steek.

Die wantoestand móét reggestel word voordat dit heeltemal te laat is. – Volksblad, 10 Mei

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.