SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Nuus
Wonde lei tot beroerte

Wyle Jeffrey (Shuping) Nouse, wat na bewering meer as twee jaar gelede saam met Johannes Baaitjie, DA-kandidaat, in Postmasburg, vermoor is, het weens die skietwond in sy kop ’n beroerte gehad.

Dié getuienis is Maandag (10/12) in die hooggeregshof in Kimberley van dokters wat hom behandel het, aangehoor.

Dié voorval het opspraak verwek omdat ’n voormalige hooggeplaaste ANC-lid een van die vyf beskuldigdes is.

Zonizelo Magawu, gewese ANC-takvoorsitter, Richard Ha­sane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu word van die moorde, asook ontvoering en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, aangekla.

Baaitjie se lyk is op 18 Augustus 2016 met ’n skietwond in sy kop langs die pad naby Postmasburg gekry. Die gewonde Nouse is dae later op 23 Augustus aan sy beserings dood.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes ná 2016 se munisipale verkiesing meer winsgewende tenders van ’n ANC-beheerde raad wou kry, en dat Baaitjie in hul pad gestaan het en uit die weg geruim moes word.

Nouse is op die betrokke oggend na die hospitaal in Postmasburg gebring nadat hy in Baaitjie se bakkie ontdek is.

Dr. Isabel Viljoen, wat aan diens was, het getuig dat hy nog haar hand kon druk en sy oë kon oopmaak. Hy kon op sy eie asemhaal, maar nie praat nie.

Sy het saam met hom per ambulans na die hospitaal in Kimberley vertrek.

Dr. Gert Steyn, wat deel was van die mediese span by die hospitaal, het getuig dat Nouse skietwonde agter sy linkeroor en op sy regterwangbeen gehad het. Steyn is onseker watter een die wond was waar die koeël in en uit is.

Die bloedverlies in die linkerbreinlob het ’n beroerte veroorsaak wat sy regterkant verlam het.

Hy het ook frakture aan sy gesig en ruggraat gehad.

Sy toestand het algaande verswak. Hy is op 23 Augustus net voor middernag dood.

Volgens die staat is Baaitjie, ’n boukontrakteur, met ’n SMS na Postmasburg gelok. Hy is ’n plaveiselkontrak van R800 000 aangebied indien hy ene Jonathan op 17 Augustus om 18:00 in Postmasburg by die Kolomela-myn se parkeerterrein sou ontmoet.

Johannes Coetzee, ’n tegniese projekbestuurder by die Kolomela-myn, het getuig hulle het in 2016 geen plaveisel-tenderkontrakte aan plaaslike boukontrakteurs geadverteer nie.

Die myn lig plaaslike raadslede en die munisipale bestuurders breedweg in oor beplande projekte waarby die gemeenskap kan baat vind. Hulle word nie in besonderhede of oor die begroting ingelig nie. Hy beplan die omvang vir kleinskaalse bouprojekte en die tenders word deur die myn se bodkomitee beoordeel en toegeken.

Die verhoor duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kalahari Bulletin Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.