Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Komani-Karoo
ACVV pak Projek Reënboog

MET die feestyd ophande het die ACVV in Middelburg oorlog verklaar teen haweloosheid en dwelmgebruik, veral onder kinders.

Ten einde hierdie sosiale euwels die stryd aan te sê, het die organisasie Projek Reënboog aangekondig, en hul op die publiek van Middelburg beroep om hiervan ’n sukses te maak.

Komani-Karoo Express het met Andri Smith, maatskaplike werker by die ACVV gesels.

KKE: Wat het die totstandkoming van Projek Reënboog genoodsaak?

Smith: Die ACVV se Middelburgtak is op 5 Augustus 1905 geopen, en omgee is ons besigheid.

Ervaring oor baie jare het ons geleer dat bedelaars, karwagte en straatkinders wat geld van die publiek ontvang, dit selde aanwend om kos te koop, maar dit meermale gebruik om gom, dagga en dwelmmiddels te bekom. Selfs wanneer hulle kosskenkings kry, verkwansel hulle dit vir dwelmgeld.

KKE: Dit vererger dus die probleem as weldoeners kos en geld aan bedelaars gee?

Smith: Ongelukkig, ja. Deur geld en kos aan bedelaars te gee, perpetueer welme-nende mense dié bose kringloop.

Kinders so jonk as sewe jaar is aan gom verslaaf, leef op straat en woon geen skool by nie. As ons nie nóú ’n einde hieraan maak nie, sal die kultuur van straatkinders en bedelaars net verder in die dorp uitkring.

KKE: Hoe gaan Projek Reënboog die bedel-kultuur aanspreek, en hoe kan die publiek help?

Smith: ’n Reënboog simboliseer hoop, en ons wil graag vir hierdie sosiale randfigure weer hoop bring. Ons wil hê hawelose kinders moet weet dat daar nog iemand is wat omgee.

Ten einde bedelaars, karwagte en kinders te ontmoedig om op straat te bedel of by privaatwonings aan te klop, het ons die publiek se hartlike samewerking nodig. In plaas daarvan om kos of kontant uit te deel, wil ons die publiek versoek om eerder ’n kaartjie van R10 of ’n boekie van R100 by die ACVV kantoor in Loopstraat 2, te kom koop.

Met hierdie kaartjie kan ’n behoeftige persoon dan óf ’n bakkie kos, óf klere ter waarde van R10 bekom, terwyl minderjariges ook maatskaplike dienste by die ACVV kantoor kan ontvang. Sodoende word nie net in die basiese behoeftes van hierdie mense voorsien nie, maar kan daar na meer permanente oplossings vir haglike maatskaplike omstandighede en substansafhanklikheid gesoek word.

Volgens Smith het die ACVV sedert die aanvang van Projek Reënboog met die hulp van vrywilligers reeds aan ses straatkinders en talle padlopers die nodige hulp verleen. Vir meer inligting, besoek die ACVV se kantoor in Loopstraat 2 of skakel 049 842 3063.

“As Middelburgers hande vat, kan ons aan hierdie behoeftiges die nodige aandag gee wat hulle verdien, en ’n reënboog van hoop wees wat ’n lewenslange verskil in hulle lewens kan maak,” het Smith gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Komani-Karoo Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.