Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Komani-Karoo
Beurtkrag en droogte laat dorpe steier

EMMERS, kanne en bottels op kruiwaens, op bakkies en in voetgangers se hande… dit het die norm geword in Oos-Kaapse gemeenskappe.

In Bedford en Adelaide is watervoorsiening al verskeie maande onvoldoende, nou steier dié twee gemeenskappe ook onder die effek wat beurtkrag op hul watervoorraad het. Die nagenoeg 26 000 inwoners van die twee dorpe ontvang tans slegs sowat ’n kwart van die watervoorraad wat hulle benodig.

Adelaide se dam is reeds ’n geruime tyd leeg. Die pompstelsel wat water uit die Visrivier na die twee dorpe voer, begin by Eastpoort, wat onder die Blue Crane munisipaliteit resorteer, maar vandaar gaan dit deur drie ander substasies wat elektrisiteit van die Raymond Mahlaba munisipaliteit ontvang. Omdat dié twee munisipaliteite nie dieselfde beurtkragskedules volg nie, het dit tot gevolg dat Bedford se reservoir nie meer as 25%-30% kapasiteit bereik nie.

“Ons het minstens 50%-80% kapa-siteit nodig om genoeg druk te hê om water by die hoogliggende dele van Bedford uit te kry,” sê munisipale raadslid Cecilia Auld. “Ons het met Amatola water en Eskom geskakel in ’n poging om die twee munisipaliteite se skedules te sinkroniseer, maar dit het nog nie vrugte afgewerp nie. Die twee boorgate wat in Napierstraat deur Gift of the Givers geboor is, is die afgelope naweek toegerus.

Tenke en krane is opgerig om die water maklik toeganklik te maak, en dit bring vir ons gemeenskap groot verligting.”

Adelaide se dorpsdam is lankal droog, en terwyl beurtkrag tot fase ses gestyg het, was die dorp verskeie dae sonder water. Ook hier stroom mens en dier na krane en krippe wat deur Gift of the Givers opgerig is nadat ’n boorgat by die dam gesink is. Volgens Rose Bantom en Callie Fischer, inwoners van Katanga, begin inwoners nou onder mekaar baklei oor water uit tenks wat in elke straat opgerig is, en die munisipaliteit kan nie voorbly om dié tenks op te vul nie.

Daar word nou gehoop dat twee tenkwaens, geskenk deur Isuzu en ‘n Kemtonparkse maatskappy, G & H Transport, Gift of the Givers in staat sal stel om sowat 80 000 liter water daagliks na die twee dorpe se hoogliggende gemeenskappe toe aan te ry. “Dit sal baie help,” meen die 67-jarige Bantom, wat die 5km van haar huis na die krane by die Adelaidedam te voet moet aflê. Vir dié wat nie kan loop nie, word bakkies en vragmotors vol water deur Samaritane én opportunitiese enterpreneurs teen soms buitensporige koste aangery.

“Maar,” voeg Cecilia Auld by, “daar is ook mense wat verstaan dat ons in ’n rampspoedige droogte is. Spar op Bedford het hul waterprys verminder. En sommige raadslede verpolitiseer nie die krisis nie, maar staan douvoordag op om water na sukkelende lede van die gemeenskap aan te ry.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Komani-Karoo Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.