Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Komani-Karoo
Dié man stuur Cradock op die ‘herstelpad’

LOU Venter is ’n Cradocker in murg en been.

Oor die afgelope 30 jaar het hy bekendheid verwerf as goudsmit, skilder, meubelmaker en wapensmit. Die afgelope 12 maande is Venter ook bekend as die voorvatter by die Cradock Gemeenskapsforum wat ’n groot verskil op die dorp maak.

Lou Venter. Foto:VERSKAF

Venter vertel dat hy gedurende Februarie verlede jaar “net nie meer die aanhoudende kragonderbrekings kon hanteer nie.”

Dit is toe wat hy vir Rika Featherstonehaugh, die DA se munisipale raadslid op die Inxuba Yethemba-munisipale raad, gaan spreek het. Sy het aangeraai dat hy ’n klompie inwoners en raadslede bymekaar bring om oor die saak te gesels.

“Ek het aanvanklik nee gesê. Maar besef toe as almal weier, gaan niks ooit gebeur nie. Ons eerste vergadering is toe belê en die saal was propvol mense wat klagtes gehad het oor water- en kragvoorsiening,” sê Venter.

’n Forumgroep is op Facebook gestig vir inwoners om idees te gee oor oplossings vir die probleme op die dorp.

“Ons eerste projek was om die kanaal wat water van die Groot-Visrivier tot by ons stoordamme bring, skoon te maak. Manne met hul werkers, toerusting en implemente het wonderwerke verrig om die oorgroeide en stukkende voor reg te maak sodat water weer die Geelbooi–stoordamme kon bereik.”

Hierdie belastingbetalers het alle onkostes om munisipale infra-struktuur te herstel, uit hul eie sakke betaal.

Die volgende stap was om die begraafplaas skoon te maak sodat besoekers dit in veiligheid kon besoek.

Die bal was hierna aan die rol om die dorp reg te ruk.

“’n Groep inwoners, veral vroue, het met die hulp van werkloses die strate ingevaar om jare se gemors op te ruim. Terwyl hulle skoongemaak het, was daar inwoners wat aanhou mors het, maar die vrywillige skoonmakers het aangehou om skoon te maak.”

Ondernemings het vullisdromme op strategiese plekke geplaas en ander inwoners het begin om geld en hulp aan te bied om die dorp weer statig te kry. Die munisipale stortings-terrein is verskeie kere met ’n privaat stootskraper skoongestoot.

“’n Sakeman het toe ingespring en uit sy eie sak betaal om die verskriklike slaggate in die strate te begin opvul.

“Sy optrede was aansteeklik en ander het ook begin om voor hul besighede gate op te vul.”

’n Groep vroue het ingespring met verfraaiing van die dorp en pragtige tuine is in verwaarloosde parke, op straathoeke en ander strategiese plekke uitgelê. Vaal, verwaarloosde gebou het ’n vrolike laag verf gekry.

Dié saamwerk van Cradock-inwoners het uitgekring en toe daar nood op buurdorpe was is daar ook na hulle uitgereik.

“Duisende liters water is na die droogtegeteisterde Adelaide gestuur. Pakkies is vir boervroue byme-kaargemaak en twee gesinne wie se huise afgebrand het, is mildelik ondersteun.

“Ek is regtig ge-raak deur die uitstaande bereidwilligheid van ons dorp se mense, selfs van plase af, om te help en kundigheid, toerus-ting en geld vir lone en brandstof beskikbaar te stel.

“My missie is dat mense wat deur die dorp ry kan sien dat hulle hier ’n maaltyd kan eet of ’n nag kan oorbly. Dis vir ons nodig om toeriste en moontlike beleggers te trek en die waarde van ons eiendomme te verseker,” sê Venter.

Hy is egter teleurgesteld omdat daar, ten spyte van die munisipale bestuurder se ondersteuning, geen samewerking vanaf die plaaslike regering en veral Chris Hani-distriksmunisipaliteit is nie. Hy is ook teleurgesteld dat daar steeds mense is wat mors en vernielsugtig is.

En dat daar woongebiede is wat nie genoeg doen of omgee om die projek te ondersteun nie. Maar die Cradock Gemeenskapsforum hou by sy leuse: “Maak skoon, maak reg, verf en plant” want almal hoop op ’n beter toekoms.

Kliek hier vir die Gemeenskapsforum se Facebook-blad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Komani-Karoo Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.