NÁ dae sonder krag, water en sel-foon-ontvangs loop Hofmeyr-inwo-ners en -winkeleienaars nou ook deur onder grootskaalse protesaksie deur ontevrede inwoners.
Bejaarde inwoners is vreesbevange terwyl protesteerders brande stig in die dorp, winkelvensters breek en toegangsroetes met vullisdromme versper.
Hofmeyr val onder die Enoch Mgijima munisipaliteit en was vanaf Saterdagaand sonder krag en water.
Die kragtoevoer is Sondagnag herstel, maar Maandag laatmiddag was sekere gedeeltes se krag weer af.
As gevolg van die kragonderbreking het alle kommunikasie ook tot stilstand gekom.
Wanneer die krag af is werk selfoontorings nie, ook nie internet-telefone of WiFi nie. Sommige huise is toegerus met kragopwekkers, maar dit kan ook nie permanent aange-skakel bly nie.
Besighede wat nie met kragopwekkers toegerus is nie, het in donkerte probeer voortgaan en gelukkig was dit die einde van die maand en alle voorraad in vrieskaste is vinnig verkoop.
Hierdie kragonderbreking het ook groot gedeeltes van die distrik in donkerte gehul.
Die afgelope week se hoë temperature het inwoners verder lam en tam gelaat, want selfs die koue water was nie meer koud nie.
Vanuit buurdorpe word ook verneem dat hulle onder dieselfde langdurige kragonderbreking gebuk gegaan het.
Besighede in Molteno wat verkoelingsgeriewe vir vleis en ander koue produkte het, moes van kragopwekkers gebruik maak en in sommige gevalle is tot R2 500 se brandstof gebruik om die nodige verkoeling te doen.
Chris Hani-distriksmunisipaliteit woordvoerder, Thobeka Mqamelo, sê ’n swaar donderstorm het veroorsaak dat een van die omgewing se twee waterpompe brandskade opgedoen het. Die donderstorm het ook Eskom se kragvoorsiening geraak.
Dit het veroorsaak dat daar net een bruikbare pomp beskikbaar was, maar die pomp is nie in staat om al die areas te voorsien nie. Volgens Mqamelo word waterwaens tans ontplooi en word herstelwerk aan die beskadigde pomp gedoen.