Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Komani-Karoo
Nqwebadam het weer water
Die Nqwebadam op Saterdag, 8 Februarie. Foto: ELSABÉ PIENAAR

DIE Nqwebadam buite Graaff-Reinet het uiteindelik weer water.

Die eens leë dam se watervlak het Dinsdag tot ’n skrale 5.41% gestyg nadat die Broederstroom, Sondags-, Gats-, en Pienaarsriviere verlede week sterk begin vloei het na goeie reënneerslae in die opvangsgebied.

Teen laat Vrydagmiddag het die water in die dam begin instroom.

Die Nqwebadam is sedert Februarie 2019 leeg, maar die watergehalte was reeds etlike maande vroeër al van problematiese gehalte. Sedert die dam amptelik leeg verklaar is, het dit bars gegaan net die 30 boorgate van die dorp om in al die waterbehoeftes van die sowat 40 000 inwoners te voorsien. Die toeloop van besoekers na dié gewilde toeristebestemming in die somermaande het addisionele druk op die waterbronne geplaas. Die meerderheid inwoners van die dorp sit al vir meer as ’n jaar lank dikwels sonder water.

“Sedert 1 Januarie 2019 het ek al ’n totaal van 290 dae geen water gehad nie,” sê Willem Botha, ’n inwoner van Noordstraat.

Volgens die Dr. Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit is lae grondwatervlakke as gevolg van die droogte, vandalisme van pompe, en beurtkrag die rede waarom reservoirs nie kan voorbly om krane vol te hou nie.

Munisipale watertenkwaens kon nie voorbly om verligting te bring na inwoners in die mees hoogliggende dele van die dorp soos Bergendal, uMasizakhe, Selfbou en Ou Kroonvale nie.

Die Nqwebadam op Woensdag, 5 Februarie. Foto: ELSABÉ PIENAAR

Die humanitêre organisasie Gift of the Givers (GOTG) het reeds miljoende rande in droogtehulp aan die dorp verleen deur onder andere wateraflewerings wat aanvanklik vanaf Makhanda (Grahamstad) aangery is, asook ’n voltydse tenkwa wat inwoners in die swaarste geaffekteerde areas bedien. JM Landmann boordienste en GOTG het nege boorgate by agt skole in die dorp geboor. Inwoners mag ook hier kom water haal.

Die organisasie het ook die plaaslike Midlands-hospitaal van hul eie boorgat voorsien, nadat dit aan die lig gekom het dat operasies uitgestel moes word vanweë ’n gebrek aan water.

“Daardie 5.41% water in die dam is ’n simbool van hoop vir inwoners,” sê Corene Conradie, GOTG koördineerder.

Hoewel die water in die dam inwoners groot vreugde bring, beteken dit nog lank nie die einde van die Juweel van die Karoo se waterprobleme nie.

“Ek is bekommerd dat ons steeds in ’n droogtegreep gaan verkeer selfs as die dam vol is,” eggo Conradie die sentiment van vele inwoners.

Intussen sal daar nog heelwat water in die see én in die Nqwebadam moet loop voor die dorp se infrastruktuur weer op standaard is.

Herstelwerk aan gevandaliseerde pompe en elektriese bedrading, sowel as ’n agterstand in onderhoud aan infrastruktuur, sal nog baie tyd in beslag neem voordat inwoners weer water in hul krane kry en nie vir lug in die plek daarvan betaal nie.

8 Kyjk hier na ’n video om te sien hoe die water die dam ingeloop het:

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Komani-Karoo Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.