TERWYL die droogte in die Oos-Kaap landbou knou soos nog nooit tevore, is boere wat om droogtehulp wou aansoek doen, verlede week ’n verdere bloedneus toege-dien.
Die vuishou is dié keer deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DRDAR) geplant, toe kriteria vir droogtehulpaansoeke skielik op Vrydag, 15 November, gewysig is.
Volgens dié wysiginge moes boere nou bewys van eienaarskap of huurregte van plaasgrond lewer, en stawende dokumentasie saam met droogtehulpaansoeke in- dien.
Terwyl titelaktes in die besit van die verbandhouer bly, en die vereiste beëdigde verklarings oor huurooreenkomste deur die grondeienaar (en nie die huurder nie) uitgereik moet word, kon ’n groot aantal boere nie dié dokumente in die hande kry voor Vrydag, 22 November, se spertyd nie. Dié boere is nou bekommerd dat hul aansoeke nie sal slaag nie.
“Dis ook nie net kommersiële boere wat hierdeur geraak word nie,” sê Dave Stern, voorsitter van die Sneeuberg Boere-unie in die Nieu-Bethesda-distrik. “Opkomende boere se lewendehawe loop op meentgrond - waar moet húlle dié tipe dokumente vandaan kry?”
Intussen het die Demokratiese Alliansie ’n dringende versoek aan Nomakhosazana Meth, LUR vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gerig om die nuwe kriteria vir droogtehulp te skrap.
“Hierdie laaste-minuut vereistes kan tot gevolg hê dat daar gediskrimineer word teen moontlike droogtehulpaansoekers, en sal slegs bydra tot frustrasie,” het Retief Odendaal, skadu-LUR vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Vrydag in ’n persverklaring gesê.
“Die doel van droogtehulp is om die geweldige druk waaronder ons boere reeds verkeer, te verlig – nie om méér druk op hulle te plaas tydens ’n reeds onhoudbare situasie nie.”
Odendaal is van mening dat die chaos wat die droogtehulpproses tans omhul, die behoefte aan ’n droogtebeheersentrum weereens beklemtoon. “Die sentrum moet verskeie eksterne sleuteldeelnemers betrek wat waardevolle insette oor brandpunte sal kan lewer.”