Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Komani-Karoo
Tannie Katriena op 102 oorlede

TANNIE Katriena van Loggerenberg, Huis Karee in Middelburg se oudste inwoner, is Vrydagaand, 31 Mei op die ouderdom van 102 oorlede.

Tot op die laaste was haar verstand nog glashelder en het sy elkeen herken en ’n geselsie aangeknoop. Op 25 Mei het sy vir oulaas haar skoonseun geskakel om hom met sy verjaardag geluk te wens. Soos haar dogter Minnie Haug dit stel, “Sy was tot die einde so bright soos ’n penny” en het nog haar finansies daardie Saterdag met Minnie bespreek. Donderdag is sy in die siekeboeg opgeneem waarna sy Vrydagaand oorlede is.

Tannie Katriena van Loggerenberg tydens haar verjaardagvieringe verlede jaar. foto:argief

Jaar vir jaar het sy haar eie verjaardagpartytjie gereël en in 2016 het sy selfs haar 100ste verjaardag partytjie by Farmhouse Grill self gereël, waar sy haar vriende en familie van ver onthaal het.

Tannie Katriena was tot haar einde nog ’n aktiewe lid van die ATKV Rhenosterberg-tak op Middelburg. Sy was ook die oudste langslewende lid van die ATKV in Suid-Afrika en het nog jaarliks haar Tjiengelieng- boeke van die ATKV uitgekies en ontvang, waarna sy dit dan aan ’n skool van haar keuse in Middelburg en omgewing geskenk het.

Elke Donderdag het Tannie Katriena self in die bussie wat die inwoners winkels toe neem vir inkopies, geklim. Donderdae het sy ook haar gereelde haarafspraak by Magda se Salon Happy Hair gehad, maar die laaste Donderdag was sy nie gesond om te kon gaan nie. Sy was baie gesteld op haar hare en dit was een van haar hoogtepunte elke week.

Tannie Katriena het ook verkies om haar kamer daagliks self skoon te maak, haar eie bed op te maak en na die eetsaal te stap om etenstye saam met die ander inwoners gesellig te verkeer.

Haar familie wil van hierdie geleentheid gebruik maak om die personeel en inwoners van Huis Karee wat vir haar die laaste jare so goed was, asook al haar vriende en kennisse in Middelburg te bedank vir al hul liefde en omgee. Huis Karee se personeel was vir haar ’n groot steunpilaar en word hul versorging en aandeel in haar lewe deur haar familie ontsettend waardeer.

Tannie Katriena se ter aarde bestelling vind op 7 Junie om 09:00 plaas, waarna haar troosdiens om 10:00 by Huis Karee sal wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Komani-Karoo Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.