Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
Beskuit en brood is in hulle bloed
Jeffreysbaai-inwoners Christel de Lange en Ilse Beneke lewer beskuit, sakkie-brood en gemmerbier aan talle winkels regoor die Oos-Kaap. Foto:MONIQUE BASSON

KLAK-klak-klak . . . kom die klanke van ’n handmenger uit die kombuis – panne staan blink-gereed vir die industriële oond.

Klaargemaakte beskuit en sakkie-brood staan op ’n draadrak – alles netjies verpak. Van rosyntjiebrood tot suurlemoen en roosmaryn. Al wat kort is ’n goeie skoot kefir- of karringmelk.

Ilse Beneke (60) en Christel de Lange, eienaars van Good 4 You in Jeffreysbaai, groet met ’n entoesiastiese glimlag. Hoe meer ek uitvra oor beskuit en brood, hoe meer borrel hulle van passie vir hierdie lekkerte.

Want dié twee hardwerkende en dinamiese tweemanskap is nie sommer gewone beroepsbakkers nie.

Hulle het ’n lang en moeilike kronkelpad gestap om te kom waar hulle vandag is – ’n suksesvolle onderneming wat beskuit, sakkie-brood en gemmerbier aan talle winkels regoor die Oos-Kaap lewer.

Amper 400 liter gemmerbier ’n week en meer as 100 brode.

Good 4 You se sakkie-brood het in 2018 gevolg – al die droë bestanddele is in een sakkie, al wat kort is kefir- of karringmelk voor dit oond toe gaan.Foto’s: VERSKAF
Good 4 You is die enigste onderneming in die Oos-Kaap wat beskuit met kefir-melk bak.Foto: VERSKAF

Hulle glo egter hulle kan nog beter en het groot planne vir die toekoms.

Al moet hulle van vroeg soggens tot laat op hul pos by die onderneming wees, en sélf op Donderdae en Vrydae hul produkte aflewer.

Maar hoe het’n koffiewinkel-eienaar en die voormalige eienaar van Postnet in Kathu in die bakwêreld beland?

Hulle reis begin

’n Passie om te bak – veral met kefir (’n gegiste melkdrankie wat die bakteriebalans in jou dermkanaal kan verbeter).

Beneke frons liggies: “Ons het in Januarie 2017 met net ’n paar Rand en ’n bolletjie kefir in ’n motorhuis begin – eers net beskuit.

“Dit was die begin van baie lang ure en laat nagte. Ons moes amper elke uur bak, twee panne op ’n slag. Soos die beskuit uitkom, moes ons sny en dan droog en verpak.”

Good 4 You is die enigste onderneming in die Oos-Kaap wat beskuit met kefir-melk bak.

Ses maande later het die Good 4 You-gemmerbier, met vars gerasperde gemmer, gevolg – hul topverkoper.

Dít sonder om te weet hóé om gemmerbier te maak.

Beneke, wat vir geen uitdaging terugstaan nie, lag: “Ons eerste gemmerbier was ’n totale flop – die begin van vele floppe! Dit het ons maande gevat om die resep perfek te kry en ons vernuf in die kombuis te verbeter.

“Vir my is die beste ding van floppe dat ’n mens daaruit leer. Jy sal mos nou nie weer daardie fout maak nie.”

In 2018 het hulle sakkie-brood gevolg – al die droë bestanddele is in een sakkie, al wat kort is kefir- of karringmelk voor dit oond toe gaan.

Beneke, wat lief is vir kruie, sê: “Ons gebruik slegs geure waarvan ons hou.”

Hulle wenresep: liefde, harde werk en persoonlike diens.

Smaak sukses

Vandag spog hulle met ’n volwaardige gebou en lewer beskuit, gemmerbier en brood aan talle winkels regoor die Oos-Kaap – tot 390 liter gemmerbier per week en 150 brode en beskuit.

Beneke sê: “Ons het elke sent van ons wins in die besigheid te-ruggeploeg.

“’n Mens moet vreesloos in die sakewêreld wees. Harde werk is altyd die moeite werd.”

En wat inspireer hulle om elke dag op te staan en te bak? Om te sien hoe die deeg oornag gefermenteer het, hoe warm die oond is, hoe hulle die dag se gebak gaan aanpak, die verspotte grappe wat hulle maak . . . dit maak hulle baie gelukkig.

Hul ideaal is om binnekort ciabata- en Boston-brood in sakkies te lewer, asook pynappelbier.

Asook om meer mense in diens te neem.

Sakkie-brood

  • Gesondheidsaadbrood
  • Rosyntjiebrood
  • Knoffel en kruie
  • Groenui
  • Italiaanse kaas
  • Suurlemoen en roosmaryn
  • Knoffel en brandrissie
  • Roosmaryn en olyf

Beskuit

  • Diabetiese-beskuit
  • Gesondheidsbeskuit
  • Bloubessie en klapper
  • Karringmelk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.