Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kouga-Express
De Mistkraal Primêre Skool: Waarnemende hoof dol oor kinders

AAN die einde van die kort grondpad – vol slote en dongas – staan ’n helderblou gebou met ’n ewe parmantige groen dak.

Dis omring deur reuseberge en lemoenboorde. Die vroegoggend-klanke van gelukkige kinders vul die lug. Slegs vir ’n oomblik word dit stil wanneer hul hande by die groot draadhek ontsmet word. Elke leerder dra ’n masker.

Óók hier word streng by die COVID-19 pandemieregulasies gehou.

Met skoon hande kom groet waarnemende skoolhoof Estelle Pietersen (55) van die De Mistkraal Primêre skool in Patensie vriendelik.

Dié doelgerigte vrou staan sedert Mei, verlede jaar, na die aftrede van jarelange hoof Martie de Beer, aan die stuur van sake by die plaasskool wat nagenoeg 180 graad R tot graad 7-leerders het.

Pietersen is lief vir kinders en passievol oor die onderwys – al vir meer as drie dekades.

Sy het in 1990 haar eerste tree as onderwyser by De Mistkraal gegee, nadat sy eers vir maat-skaplike werk studeer het – en is nie ’n dag spyt oor haar besluit om haar loopbaan in ’n ander rigting te stuur nie.

In Februarie 2019 is sy as departementshoof aangestel. Die vorige departementshoof, wyle John Ohlson, het saam met haar in 1990 by die skool aangesluit.

Pietersen, wat klas vir die graad 3-leerders gee en met sport help, se liefde vir onderwys lê diep in haar hart.

“Toe ek die eerste dag – nog jonk en onervare – voor my eie klas staan, het ek geweet ek kon nie ’n beter beroep gekies het nie,” sê sy. “Ek is waar ek moet wees. Dit is my kans om ’n verskil in kinders se lewens te maak.”

Wat geniet sy die meeste?

“Die nederigheid en dankbaarhied van die leerders, asook die geestelikheid van die groter gemeenskap – hulle is diep in die Gees gewortel,” sê sy.

“Dit is ook hier waar ek die Here ontmoet het. Ons erken die Here in alles wat ons doen – dit is Sy genade wat ons dra.”

Die skool wat in 1961 sy deure geopen het en sedert 1996 ’n graad R-klas het, spog met vyf permanente onderwysers, ‘n opsigter, assistent-onderwyser en student-onderwyser. Daar is ook ’n vervoer-monitor en twee lede verantwoordelik vir die ontsmetting van leerders se hande.

Uitblink-atlete sluit in Theoline George, Anisha Malgas, Joedin Slabbert en Shawn Prins.

Op die netbalbaan hou Jadine Prins, Jennifer Dirk en Hillary Witbooi die skool se naam hoog, terwyl Renaldo Mandeka, Stefanus Saayers en Adrewlin Prins op die rugbyveld koning kraai.

Pietersen se droom vir die skool?

Sy glimlag: “Benewens skryfbehoeftes en sportdrag vir leerders, glo ek dat ons binnekort na die nuwe skoolgebou in Patensie skuif.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kouga Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.